Nuus 09:00
BULLETIN 15 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Unisa-dosent sê Suid-Afrika het ‘n oortuigende saak teen Israel gelewer
# Oos-Kaapse prokureurs beplan om Amerika voor die hof te daag oor die Israel-Gaza-konflik
# En, Barbie en Oppenheimer is die grootste wenners by die Critics Choice-toekennings
# ‘n Dosent aan die Universiteit van Suid-Afrika, Mametlwe Sebei, sê Suid-Afrika se regspan het ʼn oortuigende saak gestel toe hy Israel in die Internasionale Geregshof van volksmoord beskuldig het. Suid-Afrika het aangevoer Israel se militêre aanslag op Gaza oortree die Volksmoordkonvensie van 1948. Israel ontken dit. Sebei sê Suid-Afrika se saak is op feite en die beginsels van internasionale humanitêre wette gebaseer:
‘n Groep Oos-Kaapse prokureurs, gelei deur die regsfirma Wikus van Rensburg-prokureurs in Gqeberha, het intussen ‘n kennisgewing uitgereik oor hulle voorneme om ‘n siviele saak aanhangig te maak teen die Amerikaanse regering oor sy beweerde steun vir die konflik in Gaza. Van Rensburg, die stigter van die firma, beskuldig die Amerikaanse regering van aanspreeklikheid en medepligtigheid met sy steun vir Israel. Van Rensburg sê, sou die hof bevind Israel het internasionale wette oortree, sal hulle ook ‘n siviele saak najaag teen Brittanje vir sy medepligtige optrede.
# ActionSA gaan vandag sy kandidaat vir die pos van adjunk-burgemeester van die Stad Tshwane aankondig. Die party se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sal na verwagting die aankondiging doen. ActionSA se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê hulle hou vol ʼn adjunk-burgemeester is nodig om seker te maak die beginsels van samewerkende regering word nagekom:
# Gholf: Tommy Fleetwood van Engeland het voëltjies behaal op die laaste twee putjies en die Dubai-uitnodigingstoernooi met een hou voor Rory McIlroy van Noord-Ierland en die Suid-Afrikaner, Thriston Lawrence gewen. McIlroy was een hou voor toe hulle by die laaste putjie kom, maar sy afslaanhou het in die water beland. Die Engelsman het die ongelooflike 16-voet-voëltjie behaal om die titel op te raap. Lawrence het saam met McIlroy op 18 onder klaargemaak. Fleetwood sê dit was belangrik om gefokus te bly, veral oor die laaste twee putjies:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-557-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-54-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-45-sent per vat.
# En, ter afsluiting: Die lokettreffers Barbie en Oppenheimer oes in talle toekenningskategorieë steeds die louere in. Die Tweede Wêreldoorlog-drama Oppenheimer het agt toekennings gewen by die 29ste jaarlikse Critics Choice-toekennings. Dit sluit in Beste Rolprent, Beste Ondersteunende Akteur vir Robert Downey Junior, en Beste Vervaardiger vir Christopher Nolan. Barbie het ses toekennings ontvang, onder andere vir Beste Komedie. In die televisie-kategorieë het Hulu se gewilde reeks, The Bear, en Netflix se beperkte reeks wat deur padwoede geïnspireer is, Beef, met vier toekennings weggestap en HBO se komedie-drama, Succession met drie. Harrison Ford is vereer met die loopbaan-toekenning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….