Nuus 09:00
BULLETIN 28 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê sy drienasie-besoek aan Suidoos-Asië was ‘n sukses
# Saftu sê die Arbeidshof se uitspraak teen ArcelorMittal is ‘n oorwinning vir werkersregte
# En die VSA en Japan onderteken ‘n ooreenkoms oor minerale en seldsame aardmetale
# President Cyril Ramaphosa sê sy besoek aan drie lande in Suidoos-Asië wat gemik was op handel, belegging en die hernuwing van geskiedkundige bande, was ‘n sukses. Die president het Indonesië, Viëtnam en Maleisië besoek, waar hy ook as gas van die voorsitter deelgeneem het aan die 47ste Beraad van die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies. Ramaphosa het die media ingelig oor die afsluiting van sy reis en gesê dat alle lande ooreengekom het om wedersyds voordelige handel te verhoog deur marktoegang te verbeter en nie-tariefhindernisse te verminder:
# Suid-Afrika het G20-lidstate gevra om buigsaam te wees terwyl die werkgroep vir bemagtiging van vroue die laaste onderhandelingsfase van die heel eerste G20 Ministeriële Verklaring oor die Bemagtiging van Vroue nader. Die werkgroep wat in 2023 onder Indië se G20-presidentskap gestig is, het gegroei onder Brasilië in 2024 en nou Suid-Afrika in 2025. Die direkteur-generaal vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Mikateko Joyce Maluleke, is optimisties dat die verklaring, indien dit aanvaar word, ‘n geskiedkundige mylpaal vir die G20 se geslagsgelykheid-agenda sal wees.
# Die Suid-Afrikaanse Vakbondfederasie sê die Arbeidshof se uitspraak teen ArcelorMittal Suid-Afrika herbevestig die reg van werkers op billike onderhandeling en geregtigheid wat betref prosedures. Die hof het die heraanstellng van alle werkers van ArcelorMittal se aanlegte in Newcastle en Vereeniging gelas, wat vroeër vandeesmaand onregverdig afgelê is. Asive Dyani van Saftu sê die uitspraak is ‘n keerpunt in die verdediging van werkers teen afleggingsmisbruik:
# Die Amerikaanse president Donald Trump en die nuutverkose Japanse premier Sanae Takaichi het ‘n ooreenkoms onderteken vir die verskaffing van kritieke minerale en seldsame aardmetale. Trump is op die tweede fase van sy Asië-toer. Die doel van die ooreenkoms is om beide lande te help om veerkragtigheid en sekerheid oor kritieke minerale en seldsame aardmetale-voorsieningskettings te bereik. Amerika het dringend stappe gedoen om die voorsiening van kritieke minerale te diversifiseer om sy afhanklikheid van China te verminder, wat bykans ‘n monopolie op die verwerking van kritieke minerale het.
# Tennis: Die 2023-finalis, Grigor Dimitrov, het na sy afwesigheid van 14 weke weens ʼn besering, sy terugkeer tot die ATP-toer met ʼn oorwinning in skoon stelle in die eerste ronde van die Parys Meesters gevier. Die Bulgaar het die Fransman, Giovanni Mpetshi Perricard, verslaan. Die 2018-kampioen, Karen Khachanov van Rusland, het die tweede ronde gehaal met ʼn 6-1, 6-1-sege oor die Amerikaner, Ethan Quinn. Die Brit, Cameron Norrie, kom in die tweede ronde teen Carlos Alcaraz van Spanje te staan nadat hy met die Argentyn, Sebastian Baez, afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-872-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-969-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….