Nuus 09:00
BULLETIN 23 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Groep van Vooraanstaande Persone hersien benoemings vir die nasionale dialoog-beheerkomitee
# Sewe polisiebeamptes is in Johannesburg in hegtenis geneem vir beweerde afpersing en ontvoering
# En die VSA stel sanksies in teen Rusland se twee grootste oliemaatskappye
# Die Groep van Vooraanstaande Persone beoordeel en doen tans gehalteversekering van die benoemings vir die beheerkomitee van die nasionale dialoog voordat voorstelle aan president Cyril Ramaphosa voorgelê word. Die eerste nasionale konvensies in Augustus het die mandaat, verantwoordelikhede en samestelling van die komitee goedgekeur. Daar is ook ooreengekom dat elk van die bepaalde sektore samesprekings sal hou om oor benoemings van die wat in die komitee en sy sub-komitees sal dien, te besluit . Sodra Ramaphosa die aanbevelings goedgekeur het, sal die beheerkomitee sorg vir die verloop van die landwye openbare dialoog:
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika sê hy het ‘n groot stap geneem in die stryd teen diefstal en vandalisme aan spoorinfrastruktuur, en terselfdertyd pendelaars se veiligheid verbeter. Dit volg nadat 400 beamptes van Prasa se beskermingsdiens gister ingesweer is as vredesbeamptes, wat die getal vredesbeamptes op 686 te staan bring. Prasa-woordvoerder Andiswa Makanda sê die beamptes het nou uitgebreide regsgesag, soortgelyk aan dié van polisiebeamptes wanneer hulle hul taak verrig:
# Sewe lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is gearresteer weens beweerde afpersing en die ontvoering van ʼn vermeende onwettige mynwerker in Johannesburg. Die beamptes wat verbonde is aan die Wesrandse eenheid vir openbare orde-polisiëring het na bewering geld geëis by ʼn onwettige mynwerker wat in besit betrap is van goudverwerkingsmateriaal. Stad Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid, Mgcini Tshwaku, sê die beamptes het tussen en vyf-duisend- en dertig-duisend-rand van die verdagte geëis:
# Amerika het sanksies ingestel teen Rosneft en Lukoil, twee van Rusland se grootste oliemaatskappye, omdat Moskou nie ernstig oor vrede met Oekraïne is nie. Volgens die Departement van Finansies sal die sanksies druk op Rusland se energiesektor plaas, verhoed dat die Kremlin geld vind vir sy oorlogsmasjien en om die verswakte ekonomie te ondersteun. Die Britse regering het ook verlede week sanksies teen die oliemaatskappye ingestel. President Donald Trump van Amerika sê die stappe sal beslis ‘n uitwerking op Moskou hê:
# Sokker: Die 15-malige wenners, Real Madrid, het hul sukses in die Kampioeneliga voortgesit met ʼn 1-0-sege teen Juventus. Engeland se middelveldspeler, Jude Bellingham, se doel in die 57ste minuut het die oorwinning beklink. Liverpool het sy vier agtereenvolgende nederlae beëindig met ʼn oortuigende 5-1-sege teen Eintracht Frankfurt. Chelsea het ʼn rooi kaart in die 15de minuut gebruik om Ajax met 5-1 te verpletter, en Bayern Munich het Club Brugge met 4-0 verslaan. Tottenham Hotspur en AS Monaco se wedstryd het sonder doele gelykop geëindig terwyl Sporting en Marseille ook gelykop was met een elk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-611-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-85-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….