Nuus 09:00
BULLETIN 22 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank sê Suid-Afrika betree ‘n lae-inflasie-era
# Die DA kritiseer die Weermag oor die uithongering van die vlootrekrute by SAS Saldanha
# En daar is geen planne vir Trump en Putin om in die nabye toekoms persoonlik te ontmoet nie
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se president, Lesetja Kganyago, sê die land gaan ‘n nuwe era van lae inflasie binne wat die moontlikheid van dalende inflasieverwagtings versterk. Die bank verwag vanjaar ʼn gemiddelde inflasiekoers van 3,4-persent en volgende jaar 3,6-persent voor dit in 2027 tot drie-persent daal. Kganyago het by die 2025 SA Tomorrow-beleggingskonferensie gesê die land se risikopremie is hoofsaaklik ʼn funksie van fiskale beleid, maar ʼn laer inflasiekoers gee ʼn meer optimistiese ekonomiese vooruitsig.
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die sperdatum uitgestel vir skriftelike voorleggings en ondersteunende bewyse oor die markondersoek na die uitwerking van vaste heffings wat Eskom en munisipale elektrisiteitsverspreiders hef. Die doel van die ondersoek is om te bepaal hoe vaste en kapasiteitsgebaseerde koste gestruktureer en toegepas word in die elektrisiteitsverspreidingsektor, asook die uitwerking. Dit is in die besonder in gevalle waar verhogings Eskom se goedgekeurde tariefaanpassings van 12,74-persent oorskry het. Charles Hlebela van Nersa sê die sperdatum is nou 8 November:
# Die DA het sy verontwaardiging uitgespreek oor berigte dat 130 vlootrekrute by die SAS Saldanha-opleidingsbasis honger ly en swak akkommodasie het. Nicholas Gotsell van die DA sê dit ontbloot diepgaande sistemiese mislukkings in die weermag se leierskap. Die rekrute het na bewering maande lank op die minimum rantsoene oorleef te midde van konstruksievertragings by die Simonstad-vlootbasis. Hy sê die DA sal dringende parlementêre vrae oor voorsiening, beplanning en begroting vir die betrokke rekrute indien:
# Die Withuis sê daar is geen planne dat president Donald Trump en sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, binnekort sal ontmoet nie. Die twee leiers het verlede week ná ʼn telefoongesprek wat Trump as uiters reguit en produktief beskryf het, ingestem om mekaar in Boedapest, Hongarye, te ontmoet. Die twee het in Augustus in Alaska beraadslaag, maar daar was geen vordering om ʼn skietstilstand te bereik nie. Trump het by die Withuis aan verslaggewers gesê hy wou nie ʼn verkwiste vergadering hê nie:
# Sokker: Die derde ronde van die Kampioeneliga het gisteraand 43 doele beleef , vyf rooi kaarte is uitgedeel en ses strafdoele is aangeteken. Die verdedigende kampioen, Paris St Germain, het Bayer Leverkusen met 7-2 kafgedraf en na die boonste plek op die punteleer opgeskuif. Fermín López het ‘n driekuns behaal toe Barcelona met 6-1 teen Olympiacos geseëvier het. PSV Eindhoven het ‘n 6-2 oorwinning teen die Italiaanse kampioene, Napoli, behaal. Erling Haaland het in sy 12de agtereenvolgende wedstryd ‘n doel aangeteken toe Manchester City vir Villarreal met 2-0 geklop het. Arsenal en Newcastle het ook oortuigende oorwinnings behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-498-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-129-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….