Nuus 09:00
BULLETIN 21 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# # Minister George sê klimaat-voornemens kan nie deur middel van straf-handelsbeperkings bereik word nie
# Die Padongelukkefonds bespoedig betalings aan eisers om die agterstand te verminder
# En padwedlope: African Bank bevestig prysgeld van 250-duisend-rand vir die Soweto-marathon
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê Suid-Afrika sal voortgaan om sy kommer te lug oor eensydige handelsmaatreëls wat volhoubare ontwikkeling ondermyn en die Parysverdrag se beginsels weerspreek. Die minister woon volgende maand die 30ste Konferensie van Partye onder die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering by. George sê klimaat-voorneme kan nie deur straf-handelsbeperkings bereik word nie, maar deur samewerking, vernuwing en regverdigheid:
# Die Padongelukkefonds se tussentydse raad sê hy het sy verbintenis nagekom om eisers te betaal en dienslewering te verbeter. Die staatsonderneming het sedert April 17,3-miljard-rand aan vergoeding vir padongelukslagoffers en diensverskaffers betaal, en in September alleen is 4,18-miljard-rand uitbetaal. Dis die grootste bedrag wat in een maand in die 2025/2026-boekjaar betaal is. Die fonds het hierdie maand reeds 2,57-miljard-rand uitbetaal. Die fonds sê eisers, hul prokureurs en verskaffers van mediese dienste sien die voordele van vinniger en meer betroubare skikkings.
# Die DA in die Wes-Kaap sê die onlangse gewelddadige voorvalle is deel van ‘n sistemiese ineenstorting van polisiëring onder ‘n nasionale regering wat die provinsie steeds verwaarloos. Sewe mans is verlede Vrydag in Philippi-Oos vermoor in wat nog ‘n bendeverwante teregstelling blyk te wees. Dit volg na tien mense die afgelope twee weke in Gugulethu vermoor is. Benedicta van Minnen van die DA sê die dringende ontplooiing van bykomende polisiebeamptes op die grond in hoërisiko-gebiede is nodig:
# President Donald Trump en die Australiese premier Anthony Albanese het ‘n kritieke mineraal-ooreenkoms onderteken. Dit is daarop gemik om China se pogings vir die verskerping van beheer oor sy wêreldwye voorraad, teen te werk. China beheer tans ongeveer 70-persent van die ontginning van seldsame aardmetale en 90-persent van die verwerking van die materiale. Die ooreenkoms volg ‘n week na die VSA China se uitbreiding van seldsame aardmetale-uitvoerbeheer as ‘n bedreiging vir wêreldwye voorsieningskettings veroordeel het. Albanese sê die ooreenkoms is voordelig vir beide lande:
# Padwedlope: Die hoofborg van die Soweto-marathon, African Bank, het bevestig dat die mans- en vrouewenners van die 42,2-kilometer wedloop, elk 250-duisend sal ontvang. Die wedloop vind op 29 November by Nasrec plaas, met alle prysgeld en uitgawes wat ten volle gedek is. Die hoofbemarkingsbeampte, Sbusiso Khumalo, het die bank se verbintenis tot die ondersteuning van atlete en die gemeenskap beklemtoon, ten spyte van voortdurende geskille oor aanbiedingsregte. Hy het African Bank se planne bevestig om sy borgskap voort te sit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-914-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-342-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….