Nuus 09:00
BULLETIN 16 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verkry befondsing van die VSA om sy bestaande MIV/Vigs-programme te onderhou
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika is nie ‘n aantreklike plek om sake te doen nie
# En rugby: SA Rugby stel sy o.19-oefengroep vir die Europese toer bekend
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê Suid-Afrika sal oor ‘n tydperk van ses maande twee-miljard-rand van die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming ontvang. Dit sal bestaande MIV- en vigsprogramme in die land aan die gang hou. Besnoeiings in Februarie aan Amerika se presidensiële noodplan vir vigsverligting het ʼn massiewe finansiële tekort veroorsaak in Suid-Afrika se MIV-programme. Motsoaledi sê Amerika het besluit om die besnoeiings te heroorweeg deur ʼn nuwe meganisme in te stel. Dit word ʼn oorgangstydperk genoem wat een tot vyf jaar kan duur.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika het sy ekonomiese fondasie laat vergaan terwyl hy ekonomiese doelwitte nastreef wat onmoontlik is sonder betroubare beleggings en bekwame administrasie. Die Nasionale Ontwikkelingsplan voorsien ʼn toekoms waar Suid-Afrika beleggingsvlakke gelykstaande aan 30-persent van sy bruto binnelandse produk bereik. Die land kon dit egter nie die afgelope jare regkry nie. Terence Corrigan van die instituut sê die land is eenvoudig nie ʼn aanloklike bestemming om sake te doen nie:
# Die raad van die Stad Tshwane het die raamwerk vir ruimtelike ontwikkeling volgens distrikte amptelik goedgekeur. Die raamwerk dien as ‘n strategiese riglyn vir ruimtelike ontwikkeling vir die volgende tien tot 15 jaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê die raamwerk sal nie net help met gefokusde belegging en ontwikkeling nie, maar sal ook ‘n kritieke rol speel in die metro se finansiële bestendigheid oor die lang termyn:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, doen ‘n beroep op die wêreld om voedselstelsels te skep wat mense voed en die planeet beskerm. Vandag is Wêreldvoedseldag onder die tema Hand aan hand vir Beter Kos en ‘n Beter Toekoms – ‘n oproep tot solidariteit oor grense, sektore en gemeenskappe heen. ‘n Geskatte 673-miljoen mense gaan steeds elke aand honger slaap. Guterres sê wêreldwye vordering met die bekamping van voedselnood is ver te stadig en is in sommige streke selfs in trurat:
# Rugby: Vyf lede van die Junior Springbok-span wat vroeër vanjaar Wêreldrugby se Onder-20-kampioenskap in Italië gewen het, is ingesluit in die oefengroep van SA Rugby se Onder-19 Akademie. Hulle speel van die einde van die maand drie wedstryde in Europa. Die seëvierende Junior Bokke wat deel is van die oefengroep is die SA onder-20-kaptein, Riley Norton, Oliver Reid, Phiwayinkosi “Rambo” Kubheka, Siphosethu Mnebelele en Vusi Moyo. Die groep van 36 sal twee wedstryde in Frankryk speel en een in Ierland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34 sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-27 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-603 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-238 dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-24-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….