Nuus 09:00
BULLETIN 12 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inkomstediens bevestig Lucky Montana het 5,4-miljoen-rand aangebied om sy belastingrekening van 55,1-miljoen-rand te vereffen
# Tennis: Novak Djokovic verloor teen die wêreldnommer-204 Valentin Vacherot in die Sjanghai Meestershalfeindstryd
# En, die Oscar-bekroonde ster Diane Keaton sterf op 79
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het bevestig die voormalige uitvoerende hoof van die PRASA, Lucky Montana, het in Augustus vanjaar 5,4-miljoen-rand as ‘n teenaanbod gemaak om sy belastingrekening van 55,1-miljoen-rand te vereffen. Dit is gister tydens ‘n spesiale media-inligtingsessie deur die SAID-woordvoerder, Siphithi Sibeko, onthul. Hy het gesê ingevolge die Belastingadministrasiewet is dit ‘n voorvereiste vir die Inkomstediens om ‘n teenaanbod te oorweeg, indien belastingskuld nie betwis word nie. Hy sê Montana se bewerings is vals dat die Inkomstediens hofuitsprake gemanipuleer het om sy belastingrekening te regverdig:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die raad van die Universiteit van Fort Hare gevra om oor ‘n aantal kritieke kwessies te besin wanneer hulle vandag vergader om die voortslepende studentebetogings te bespreek. Skade aan infrastruktuur by die instelling word geraam op tussen 300-miljoen- en 500-miljoen-rand. Onder die kwessies is die stand van bestuur en leierskap, die rol en status van die Studenteraad, en kommer oor die Visekanselier se kontrak:
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het Hoofstuk 9-instellings en burgerlike samelewingsorganisasies versoek om ‘n oop, inklusiewe en veilige omgewing te skep om haatspraak- en diskriminasiesake vinnig op te los. Kommissaris Leigh-Ann van der Merwe het in reaksie op onlangse uitsprake oor LGBTQIA+ persone deur die radiopersoonlikheid Ngizwe Mchunu, gesê die kommissie is diep bekommerd oor die hardnekkige voortbestaan van geslags- en seksuele geweld:
# BRICS Plus sal die 2025 BRICS Sterrekunde-vergadering van Maandag tot Donderdag volgende week in São José dos Campos, Brasilië, aanbied onder die tema “Multi-messenger and Multi-wavelength Transients.” Die geleentheid, wat deur Brasilië se Nasionale Instituut vir Ruimtenavorsing aangebied word, sal wetenskaplikes, opvoeders en beleidmakers van elf lidlande bymekaarbring. Aktiwiteite sluit in werkswinkels, uitreikgeleenthede en ‘n werkgroepvergadering wat daarop gemik is om globale samewerking te versterk, jong navorsers op te lei, en ontdekkings in sterrekunde en ruimtewetenskap te bevorder.
# Tennis: Die wêreldnommer-204, Valentin Vacherot van Monaco, het ‘n sukkelende Novak Djokovic met 6-3, 6-4 verslaan in hul halfeindstryd by die Sjanghai Meesters om die laagste gekeurde ATP Meesters 1000-finalis ooit te word. In die ander halfeindstryd van die dag het Vacherot se neef, Arthur Rinderknech van Frankryk, die dubbelse prestasie vir sy familie voltooi deur die voormalige kampioen Daniil Medvedev van Rusland in drie dramatiese stelle te klop. Dis die eerste keer sedert 1991 dat twee neefs in ‘n eindstryd sal speel.
# En ten slotte, die Oscar-bekroonde ster Diane Keaton is op 79-jarige ouderdom oorlede. Keaton is in Los Angeles gebore en het in die 1970’s roem verwerf met haar rol as Kay Adams-Corleone in The Godfather-films. Sy was ook bekend vir hoofrolle in rolprente soos Father of the Bride, First Wives Club en Annie Hall, wat haar in 1978 die Oscar vir Beste Aktrise besorg het. Keaton was in haar filmrolle en in haar persoonlike lewe bekend vir haar unieke styl, en het dikwels mansklere en ‘n wyerandhoed gedra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….