Nuus 09:00
BULLETIN 10 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê wetstoepassing is deel van sy mandaat
# Die polisiekommissaris sê geen geheime fondse is gebruik vir die taakspan vir politieke moorde nie
# En ‘n onderwysaktivis sê die gewelddadige betogings by Fort Hare het geen plek in ‘n demokrasie nie
# Die regering sê hy neem kennis van die voortgesette operasies deur wetstoepassingsagentskappe en die gevolglike openbare belangstelling wat dit uitgelok het. Lede van die Nasionale Intervensie-eenheid, Spesiale Taakmag en Misdaadintelligensie het gister die huise van die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya en Cedrick Nkabinde, die stafhoof van minister Senzo Mchunu wat op spesiale verlof is, deursoek. Die adjunkwoordvoerder van die regering, William Baloyi, sê die operasies val binne die normale bestek van die wetstoepassingsagentskappe se mandaat om sake te ondersoek en bates terug te verhaal:
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê geen geheime fondse is gebruik om die taakspan vir politieke moorde te befonds nie. In sy getuienis voor die parlement se ad hoc-komitee, sê Masemola die span se operasies is befonds deur die nasionale polisiebegroting wat deur homself en die hoof- finansiële beampte bestuur was. Hy het bewerings dat die span hulpbronne uit geheime intelligensiefondse verkry het, verwerp en gesê enige samewerking met Misdaadintelligensie sou afsonderlik gefinansier word:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, sê die afbrand van geboue en ontwrigting van studies by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap is diep kommerwekkend en kan nie geregverdig word nie. Studente betoog sedert Maandag by die Alice-kampus oor die visekanselier, Sakhela Buhlungu, se beweerde versuim om wanbestuur by die instelling te hanteer. Die studente is ook nie tevrede met die skorsing van die SR-president en die instelling se plan om ‘n tussentydse studenteleier aan te stel nie. Makaneta sê die studente het werklike knelpunte geopper:
# ‘n Franse hof het die appèl van ‘n voormalige konstruksiewerker wat verlede jaar skuldig bevind is aan die verkragting met verswarende omstandighede van Gisèle Pelicot, verwerp. Haar man, Dominique Pelicot, het haar oor byna ‘n dekade lank bedwelm en dosyne mans aanlyn gewerf om haar te verkrag terwyl sy bewusteloos was. Die 44-jarige Husamettin Dogan was die enigste man, uit 51, wat teen sy skuldigbevinding geappelleer het. Die hof het Dogan se appèl verwerp en sy tronkstraf met ‘n jaar tot tien jaar verhoog.
# Tennis: Al was Novak Djokovic nie op sy beste nie, kon hy Zizou Bergs van België steeds met 6-3, 7-5 verslaan om in die halfeindstryd van die Sjanghai Meesters teen die verrassing van die toernooi, Valentin Vacherot, te staan te kom. Die 38-jarige Djokovic, die hoogste gekeurde speler wat nog oor is, kom nader aan sy vyfde titel in die Chinese finansiële kern, al het hy die hele week met sy fiksheid gesukkel. Volgende in die visier van die 24-malige Grand Slam-kampioen is wêreldnommer-204, Vacherot, ‘n kwalifiseerder uit Monaco wat ‘n een stel-agterstand oorkom het om Holger Rune 2-6, 7-6, 6-4, te verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-408-dollar. Die prys van goud is drieduisend-952-duisend-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….