Nuus 09:00
BULLETIN 5 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Internasionale Betrekkinge verwelkom die ontwikkelinge oor ‘n wapenstilstand in Gaza
# Ambassadeur Mthethwa se doodsertifikaat word uitgereik
# En rugby: Bulle oorwin Leinster in VRK-riller
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het verwikkelinge rondom ‘n wapenstilstand en vrede in Gaza verwelkom. Die woordvoerder Chrispin Phiri sê Hamas se besluit om Israelse gyselaars vry te laat en verder betrokke te raak, vereis wederkerige optrede van Israel. Hy sê blywende vrede vereis die vrylating van Palestynse gevangenes en ‘n einde aan konfrontasie, en dring aan op ‘n permanente wapenstilstand en ‘n politieke proses wat Palestynse staatskap erken.
# Die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa se familiewoordvoerder, die voormalige adjunkminister Sfiso Buthelezi, het die ontvangs van sy doodsertifikaat bevestig wat die beplanning van repatriasie moontlik maak. Mthethwa is vroeër die week dood gevind buite ‘n hotel in Parys. Buthelezi sê sy oorskot moet nog vrygestel word hangende ‘n nadoodse verslag wat Dinsdag verwag word. Hy het aan Newzroom Afrika bevestig dat ‘n kulturele ritueel om Mthethwa se liggaam te gaan haal, uitgevoer moet word:
# Die UDM-vroueorganisasie is bekommerd oor Suid-Afrika se gebrekkige paroolstelsel met verwysing na 18-duisend-en-52 paroolgangers wat binne drie jaar weer oortree het, waaronder 493 moorde en 624 verkragtings. Die sekretaris-generaal Thandi Nontenja dring aan op hervorming wat slagofferveiligheid, aanspreeklikheid en oortreder-rehabilitasie eerste stel. Sy verwelkom onlangse besluite deur die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, maar sê paroolrade moet deursigtig optree, slagoffers betrek en seker maak dat slegs werklik gerehabiliteerde oortreders vrygelaat word:
# Die lughawe in München, Duitsland het vlugbedrywighede Saterdagoggend verder vertraag weens hommeltuigwaarnemings. Dit volg na waarnemings vroeër alle verkeer by die lughawe vir etlike ure tot stilstand gebring het. Ongeveer ses-duisend passasiers is geraak deur die jongste voorval, met 23 vlugte wat herlei is en 58 kansellasies en vertragings. München bied tans sy beroemde Oktoberfest-bierfees aan, wat miljoene besoekers uit Duitsland en die buiteland lok. Die lughawe-sluitings het voor vandag se feesafsluiting plaasgevind. Europa is bekommerd oor herhaalde hommeltuigwaarnemings oor burgerlike en militêre lughawens in Denemarke, Duitsland en Noorweë.
# Sportnuus:
# Rugby: Die Bulle het Saterdag vir opwindende rugby voor ‘n tuisskare in Pretoria gesorg met ‘n bonuspunt-oorwinning van 39-31 teen die verdedigende kampioen Leinster in Ronde Twee van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die gashere het die aanslag van die Iere in die tweede helfte oorleef. Leinster het van ‘n agterstand van 22-10 herstel om die voortou te neem. Laat drieë, insluitend ‘n deurslaggewende onderskeppoging, het egter ‘n oorwinning vir die Bulle op Loftus verseker. Dit is Leinster se tweede agtereenvolgende nederlaag in die kompetisie. Vroeër in Kaapstad het die Stormers die Walliese Ospreys met 26-10 geklop.
# En sokker: Die Carling Uitklop-Ronde van 16 het Saterdag vir groot drama gesorg toe verskeie topspanne geveg het vir kwarteindstrydplekke. Orlando Pirates het ‘n spannende 1-0 oorwinning teen ‘n veerkragtige Siwelele FC behaal, met verdediger Mbekezeli Mbokazi wat ‘n verstommende wendoel in die Orlando-stadion aangeteken het. Golden Arrows het ‘n indrukwekkende terugkeer in die tweede helfte van sy kragmeting gemaak om Sekhukhune United met 3-1 te oorrompel. TS Galaxy het ook deurgedring, maar het ekstra tyd en ‘n doel van Mehdi Ouamri in die 109ste minuut benodig om Orbit College FC met 1-0 te klop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….