Nuus 09:00
BULLETIN 1 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kantoor van die Parys-aanklaer begin met ‘n ondersoek na Nathi Mthethwa se dood
# Die WGO verwelkom Suid-Afrika se plan om substandaard mediese produkte te bestry
# En die Britse premier verklaar sy visie vir nasionale hernuwing
# Franse owerhede het met ‘n ondersoek begin na die dood van Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa. Hy is gister dood aangetref buite die Hyatt Hotel nadat hy Maandag as vermis aangemeld is. Parys se aanklaer, Laure Beccuau, sê Mthethwa se kamervenster op die 22ste vloer is oopgedwing met ʼn skêr wat op die toneel gevind is. Sy sê ondersoekers kon geen teken vind van ʼn geveg of dat dwelms of medikasie betrokke was nie. Beccuau sê die aanvanklike ondersoek dui daarop dat dit ʼn doelbewuste aksie was.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie verwelkom die instelling van Suid-Afrika se vyfjaar Nasionale Aksieplan om die ernstige bedreiging wat substandaard en vals mediese produkte inhou, te beveg. Die inisiatief posisioneer die land as ‘n leier op die Afrika-vasteland in die stryd teen vervalste en swakgehalte medikasie. Hiiti Sillo van die WGO sê minstens een uit elke tien produkte in lae- en middelinkomste-lande insluitend Suid-Afrika is substandaard of vervals:
# Die GOOD-party sê die Wes-Kaapse LUR vir Finansies, Deidré Baartman, se provinsiale ekonomiese oorsig en vooruitsigte was net so oninspirerend soos die ekonomiese data wat sy aangebied het. Die 2025 Provinsiale Ekonomiese Oorsig en Vooruitsigte het onder andere op die ekonomie, werkloosheid, energie, gesondheidsorg en misdaad gefokus. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hoewel die LUR praat van ‘n groeikoers wat vanjaar op 0,8 persent geprojekteer word, het die groei-vir-werk-plan vier- tot ses-persent groei belowe:
# Die Britse premier Keir Starmer waarsku dat die volgende vier jaar ‘n stryd om die siel van die land teen die verregse Reform UK-party sal wees. Volgens Ipsos, ‘n toonaangewende meningspeiler, sê slegs 13-persent van kiesers dat hulle tevrede is met Starmer sedert hy 15 maande gelede in die amp ingesweer is, terwyl 79 persent ontevrede is. In ‘n toespraak by die Arbeidersparty-konferensie op Dinsdag het Starmer verklaar dat Brittanje by ‘n kruispad is en gesê dat mense ‘n keuse het om hernuwing of agteruitgang te kies:
# Sokker: Kylian Mbappé het ʼn driekuns behaal en sy 60ste Kampioeneliga-doel aangeteken om by te dra tot Real Madrid se 5-1 sege teen Kairat Almaty in Kasakstan. In Turkye het Victor Osimhen met ʼn strafdoel geslaag om Galatasaray met 1-0 teen Liverpool te laat wen. Atlético Madrid en Bayern Munich het albei vyf doele behaal teen onderskeidelik Eintracht Frankfurt en Pafos. Tottenham Hotspur het met ʼn agterstand van 2-0 teen Bodø/Glimt sokkies opgetrek en met 2 elk gelykop geëindig. Chelsea het Benfica met 1-0 geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-533-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-858-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….