Nuus 09:00
BULLETIN 29 Sepember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie wil nie kommentaar lewer op berigte dat sy getuienisleier wil onttrek nie
# Die burgemeester van Kaapstad sê gevangenes het geen reg om misdaad van agter tralies te koördineer nie
# En gholf: Span Europa behaal ‘n historiese Ryderbeker-oorwinning
# Die Madlanga-kommissie van ondersoek het geweier om te bevestig of sy getuienisleier, advokaat Terry Motau, glo versoek het om die kommissie te verlaat. Dit volg minder as twee weke nadat die ondersoek op 17 September begin het. ‘n Woordvoerder van die kommissie, Jeremy Michaels, sê hulle gaan nie interne personeelaangeleenthede in die openbaar bespreek nie. Hy het bygevoeg die kommissie se fokus is op sy werk, om ondersoek te doen na die ernstig bewerings dat Suid-Afrika se wetstoepassingsagentskappe geïnfiltreer en onbehoorlik beïnvloed word deur misdaadsindikate en dwelmkartelle.
# Die DA-studente-organisasie het die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se volgehoue versuim om sy mees basiese verpligtinge teenoor Suid-Afrikaanse studente na te kom, sterk veroordeel. Andrea Martinez van DASO sê in April 2025 het die voormalige minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, ‘n vier-persent-verhoging in studentetoelaes aangekondig. Sy sê maande later bly hierdie belofte onvervuld. Sy sê DASO doen ‘n beroep op alle belanghebbendes om NSFAS aanspreeklik te hou vir sy beloftes:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê gevangenes het nie die reg op onbelemmerde kommunikasie buite tronkmure nie, veral wanneer hulle misdaad van agter tralies koördineer. Dit volg op die Suid-Afrikaanse Gevangene-organisasie vir Menseregte se teenkanting teen die metro se oproepe dat seinblokkering- en kommunikasie-onderskeppingstrategieë by die Pollsmoor-gevangenis getoets moet word. Hill-Lewis sê misdaadbase binne Pollsmoor trek toutjies aan die buitekant, insluitend afpersingsdreigemente en ontwrigting van infrastruktuurprojekte:
# Moldawië se regerende pro-Europese party, gelei deur president Maia Sandu, gaan waarskynlik ‘n belangrike parlementêre verkiesing wen wat oorskadu is deur bewerings van Russiese inmengery. Met 96-persent stemme reeds getel, loop Sandu se Party van Aksie en Solidariteit voor met 46,6-persent van die stemme teenoor die pro-Russiese Patriotiese Verkiesingsblok se 26,6-persent. Peilings toon Sandu sal moontlik die grootste party bly, maar kan uitdagings ondervind met ʼn belofte om binne ʼn dekade lid van die Europese Unie te word.
# Gholf: Span Europa het daarin geslaag om ‘n terugvegpoging teen Span VSA op die laaste dag te weerstaan om twee agtereenvolgende Ryderbeker-titels te beklink met ‘n oorwinning van 15-13 by Bethpage Black in New York. Shane Lowry het ‘n voëltjie op die laaste putjie aangeteken om ‘n halwe punt teen Russell Henley te behaal en te verseker dat Span Europa die trofee behou. Tyrrell Hatton se gelykopuitslag met Collin Morikawa het aan Luke Donald se span die algehele oorwinning besorg, ‘n eerste op Amerikaanse bodem sedert 2012. Donald sê hy kon nie trotser wees op sy span se veggees nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-887-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-798-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….