Nuus 09:00
BULLETIN 25 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-jeugliga verwelkom Ramaphosa se VN-toespraak, wat ‘n beroep doen op ‘n mensgesentreerde wêreld
# AfriForum oorhandig sy Malema-dossier aan senior amptenare van die Trump-administrasie
# En die 85-jarige Peter Mutharika word herkies as Malawi se president
# Die ANC-jeugliga sê president Cyril Ramaphosa se toespraak by die 80ste Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies stem ooreen met sy stryd vir ‘n regverdige, billike en mensgesentreerde wêreld. Die president het Dinsdag in sy toespraak gevra vir hervorming van die VN-veiligheidsraad en aanspreeklikheid vir oortredings van internasionale reg. Die jeugliga se nasionale woordvoerder, Zama Khanyase, sê hulle loof Ramaphosa se bevestiging van Suid-Afrika se geskiedkundige teenkanting teen imperialisme en die hervorming van wêreldwye beheerinstellings:
# AfriForum sê hy het sy dossier oor die EFF-leier Julius Malema aan senior beamptes in president Donald Trump se administrasie oorhandig. Die burgerregte-organisasie en Solidariteit het gister die Withuis besoek as deel van ʼn opvolg-skakelingsbesoek in Amerika. Ernst van Zyl van AfriForum sê om Malema se ekstremisme onder die Trump-administrasie se aandag te bring, is een deel van ʼn groter internasionale veldtog om seker te maak hy word aanspreeklik gehou vir sy aanhitsing van geweld:
# Die Nasionale Unie van Mynwerkers veroordeel die onlangse ontstellende optrede van die bestuur van Radel in Randburg, Johannesburg. Die maatskappy vervaardig en versprei ‘n wye reeks produkte en fokus veral op diens aan die swaarvoertuignywerheid. NUM het verlede week gesê ‘n bestuurder het werknemers na die kleedkamer gevolg om te sien hoe lank hulle daar deurgebring het. Dit unie sê die maatskappy het televisiekameras in aantrekkamers en kombuise aangebring waar hoofsaaklik swart werknemers werk. NUM vra ‘n ondersoek na Radel.
# Malawi se voormalige president, Peter Mutharika, het die verkiesing gewen en neem nou ʼn land oor met ʼn ekonomie in ʼn krisis, hoë lewenskoste, ʼn tekort aan buitelandse valuta en grootskaalse korrupsie. Die 85-jarige oudpresident het 56,8-persent van die stemme gekry teenoor 33-persent vir president Lazarus Chakwera. Mutharika, ʼn gewese regsprofessor, was van 2014 tot 2020 die land se president. Chakwera het sy nederlaag aanvaar en sê hy was verbind tot ʼn vreedsame magsoordrag. Die inhuldigingseremonie moet binne 30 dae plaasvind.
# Gholf: Die tweemalige Major-wenner Collin Morikawa het die idee verwerp dat die Amerikaanse span betaling ontvang en daarom minder gedrewe is as die Europese span om die Ryder-beker te wen. Kritici het die Beroepsgholfspelersvereniging van Amerika se besluit om die Amerikaanse spanlede vir deelname aan die Ryder-beker te betaal, bevraagteken. Die Ryder-beker begin Vrydag op Bethpage Black in New York. Morikawa sê die betaling is nie oor persoonlike gewin nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-908X-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-738-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….