Nuus 09:00
BULLETIN 23 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC beskuldig die DA van die bevordering van misdaad teen die mensdom en volksmoord
# Minister Groenewald sê 209 gevangenes op parool het verlede jaar moord gepleeg
# En die Patriotic Alliance spreek Kenny Kunene vry
# Die ANC sê hy veroordeel die DA se verdediging en voortgesette ondersteuning van Israel. Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, het kritiek ontlok nadat sy vrae oor Israel se beweerde wandade in Gaza ontwyk het. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika het Zille nie duidelik standpunt ingeneem of Israel se optrede in Gaza op volksmoord neerkom nie. Die ANC sê hy is geregverdig in die regering se volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof en teen die DA wat misdade teen die mensdom en volksmoord bevorder.
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, sê hy is verbind tot ‘n gebalanseerde, billike en effektiewe paroolstelsel. Die departement het Maandag met ‘n tweedaagse nasionale paroolhersieningsberaad by die Kgosi Mampuru-korrektiewe sentrum in Pretoria begin. Altesaam 209 gevangenes wat op parool is, het moord gepleeg en meer as 330 verkragting. Groenewald sê sommige van die probleme sluit in oorbevolking, die samestelling van die paroolraad en rehabilitasie by die fasiliteite:
# Die Patriotic Alliance het sy adjunkpresident, Kenny Kunene, ná ʼn forensiese ondersoek oor sy beweerde bande met die moordsbeskuldigde, Katiso “KT” Molefe, van alle blaam onthef. Hy was by Molefe se woning in Sandton toe die polisie toeslaan om hom te arresteer vir die moord op Oupa Sefoka, ook bekend as DJ Sumbody. Die ondersoek het bevind Kunene het die waarheid gepraat toe hy gesê het hy ʼn jong joernalis vergesel toe hy by Molefe se huis aangetref is. Kunene is die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê die Food and Drug -administrasie sal dokters in kennis stel dat die gebruik van Tylenol tydens swangerskap gepaardgaan met ‘n aansienlike toename in die risiko vir outisme. Sommige studies toon ‘n verband tussen swanger vroue wat Tylenol gebruik en outisme, maar die bevindings is nie deurlopend nie en onoortuigend. Die vervaardiger van Tylenol, Kenvue, stem glad nie saam dat die aktiewe bestanddeel in Tylenol, asetaminofeen, outisme veroorsaak nie en sê dit is die veiligste pynverligtingsopsie vir swanger vroue. Trump beskryf die aangemelde gevalle van outisme as ‘n erge krisis:
# Motorsport: Christian Horner het Red Bull amptelik verlaat nadat hy ‘n reusebetaling van die Formule Een span ontvang het. Die 51-jarige wat Red Bull na agt bestuurders- en ses vervaardigerskampioenskappe gelei het, is in Julie as spanhoof afgedank. Sy kontrak, wat tot 2030 van krag sou wees, is nou afgehandel en hy kan na die sport terugkeer, dalk so gou as volgende jaar. Volgens mediaberigte in Brittanje kan Horner ‘n moontlike uitbetaling van tot 1,9-miljard-rand ontvang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-209-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-744-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….