Nuus 09:00
BULLETIN 22 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die swartlys van 40 onderpresterende kontrakteurs
# Donald Trump sê Charlie Kirk se sluipmoord was ‘n aanval op alle konserwatiewe ideale
# En swem: Christian Sadie wen silwer by die Wêreld Para Swemkampioenskappe
# Die DA verwelkom die Konstruksie-ontwikkelingsraad se besluit om sedert Junie 2024 40 kontrakteurs op die swartlys te plaas. Sedert 2002 is slegs een maatskappy op die swartlys geplaas. Hierdie kontrakteurs mag nie op tenders bie of werk vir die Departement van Openbare Werke of sy instellings doen nie. Bonginkosi Madikizela van die DA sê onder minister Dean Macpherson se leierskap het die departement begin om verkryging reg te ruk, teen korrupsie op te tree en seker te maak staatsgeld lewer ware resultate:
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Shamila Batohi, sê sy is bekommerd oor die veiligheid van aanklaers. Sy sê minstens 34-miljoen-rand word jaarliks aan die beskerming van staatsadvokate bestee. Dit sluit 24-uur regstreekse beskerming in waar iemand tydens hoëprofielsake by hul huise geplaas word. Vyf aanklaers is die afgelope vyf jaar in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap doodgeskiet. Batohi sê, ondanks die gevare is baie aanklaers vasberade om aan te hou werk.
# Die Forum vir Onafhanklike Finansiële Adviseurs sê hy is ontsteld oor die Stad Tshwane voortgaan met ‘n onreëlmatige en onwettige tender vir die aanstelling van ‘n enkele mediesefonds-makelaarsfirma vir die metro se werknemers. Die forum het die burgemeester, Nasiphi Moya, verlede maand skriftelik in kennis gestel dat die tender strydig is met die regulasies van die Wet op Mediese Skemas. Die forum se woordvoerder, Njabulo Majola, sê meer as agt makelaars wat deur swart vroue besit word lewer tans ‘n diens aan meer as 14-duisend werknemers van die metro:
# President Donald Trump van Amerika sê Charlie Kirk is vermoor omdat hy dapper en vreesloos geleef het en briljant kon redeneer. Die konserwatiewe aktivis is vroeër die maand by die Utah Valley University doodgeskiet en die 22-jarige Tyler Robinson word van die moord aangekla. Trump het gister by ‘n gedenkdiens vir Kirk in Arizona gesê sy sluipmoord is ʼn aanval op alle konserwatiewe ideale. Hy het Kirk geloof as ʼn groot Amerikaanse held en martelaar:
# Swem: Span Suid-Afrika se Paralimpiese swemmer, Christian Sadie, het silwer gebuit in die mans se S13-200-meter individuele wisselslag op die eerste dag van die Wêreld Para-swemkampioenskap in Singapoer. Die 27-jarige Sadie het die Afrika-rekord in die eindpoging tot twee-minute-04,03-sekondes verbeter. Inaki Basiloff van Argentinië het goud opgeraap en Aleksei Ganiuk, ʼn neutrale Paralimpiese atleet, het brons gewen. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Nathan Hendricks, was sewende in die mans S13-100-meter vlinderslag. Hy het egter in die uitdunne ʼn Afrika-rekord van 58,46-sekondes opgestel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36 sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-35 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-564 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-691 dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-53-per-vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….