Nuus 09:00
BULLETIN 20 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum gaan die EFF se plan om Afrikanerstandbeelde te vernietig beveg
# City Power stel ‘n intelligente verspreidingstelsel in werking om energieverliese te beperk
# En ‘n regter verwerp Trump se New York Times-regsgeding as onbehoorlik en ontoelaatbaar
# AfriForum sê hy sal die EFF se plan beveg om Afrikanerstandbeelde en -monumente te verwyder en te vernietig. Dit volg nadat die EFF-hoofsweep, Nontando Nolutshungu, ‘n mosie in die Parlement ter tafel gelê het waarin gevra word vir die verwydering van figure soos Louis Botha, Paul Kruger, Jan van Riebeeck en selfs die Voortrekkermonument. Ernst van Zyl van AfriForum sê die stap bedreig die Afrikaner-identiteit en is deel van die EFF se sloopkultuur:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube en die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het tabletrekenaars aan die Forest Village Leadership Academy in Kaapstad oorhandig. Die rekenaars, geskenk deur Primedia, vorm deel van pogings om skole se konnektiwiteit, digitale geletterdheid en onderwys in kodering en robotika te bevorder. Gwarube sê die projek, in vennootskap met die privaat sektor, is daarop gemik om die digitale kloof te oorbrug en te verseker geen leerder word agtergelaat nie:
# City Power het die ontplooiing van sy Intelligente Verspreidingstelsel bekendgestel om energiediefstal te bestry, tegniese verliese te verminder, en werksaamhede te moderniseer. Die hoof- bedryfsbeampte, Charles Tlouane, het by die Huawei Globale Elektrisiteitsberaad gesê die stelsel sal huidige energieverliese van byna 30-persent na minder as tien-persent verlaag. Hy sê die geleidelike implementering sal diefstal opspoor, faktureringsakkuraatheid verbeter, en netwerkdoeltreffendheid verbeter:
# ‘n Federale regter in Florida het president Donald Trump se laster-eis teen The New York Times verwerp omdat hy nie federale reëls vir die indiening van siviele eise gevolg het nie. Regter Steven D. Merryday het gesê ‘n klag is nie veronderstel om “‘n megafoon vir openbare betrekkinge” te wees nie en het die Trump-aansoek “beslis onbehoorlik en ontoelaatbaar” genoem. Merryday het gesê Trump se regspan kan weer in die volgende vier weke indien, maar die klag moet tot 40 bladsye of minder beperk word. In die uitgerekte geding word die Times beskuldig dat hulle ‘n “virtuele spreekbuis” vir die Demokratiese Party is. Trump eis 260-miljard-rand in skadevergoeding.
# En sportnuus:
# Gholf: Louis Albertse het gister ‘n dramatiese oorwinnning behaal in sy derde Sonskyntoer toe hy Pieter Moolman in ‘n uitspeelwedstryd geklop het in die Sunbet Challenge wat deur Sun Sibaya by die Umhlali-buiteklub aangebied is. Dit was met die aanvang van die laaste ronde duidelik daar wag ‘n spannende einde, met Albertse en Moolman deel van ‘n groep van vyf wat gelykop voorgeloop het. Albei spelers het afgesluit met rondes van 66, 11 onder baansyfer, maar dit was Albertse wat die titel met ‘n voëltjie op die tweede uitspeelputjie gewen het. Hy is nou agtste op die Sonskyntoer se Orde van Verdienste-puntelys.
# En fietsry: Fietsryers van Afrika handhaaf al vir meer as ‘n dekade ‘n teenwoordigheid op fietsry se hoogste vlak, maar ‘n nuwe mylpaal sal bereik word wanneer die 2025 UCI Wêreldpadkampioenskap Sondag in Rwanda begin. Dit is die eerste keer dat ‘n wêreldkampioenskapwedren op die kontinent aangebied word nadat die International Cycling Union se wedren in 1921 in Swede begin het. Sowat 150 manlike en vrouefietsryers van Afrika neem tans as professionele fietsryers deel, met Eritrea, Suid-Afrika, Algerië, Mauritius en Marokko wat die voorste vyf lande op die UCI se Afrikatoer is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….