Nuus 09:00
BULLETIN 19 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê die besluit om die repokoers onveranderd te hou, is ‘n verlore geleentheid
# Cosatu is teleurgesteld dat die Reserwebank die repokoers op 7-persent behou
# En Kamala Harris kritiseer die Trump-administrasie se aanval op vryheid van spraak
# Die GOOD-party sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee se besluit om die terugkoopkoers onveranderd op sewe-persent te hou, het ‘n geleentheid om verligting te bring, verlore laat gaan. Die prima uitleenkoers bly op 10,5-persent. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê met inflasie wat tot 3,3-persent gedaal en onder die Reserwebank se teiken van drie- tot ses-persent is, was hierdie ʼn geleentheid om druk op huishoudings te verlig:
Cosatu ondersteun die GOOD-party en sê hy is teleurgesteld dat die Reserwebank se monetêre beleidskomitee nie daarin geslaag het om die terugkoopkoers te verlaag om werkers wat weens stygende lewenskoste sukkel, te help nie. Die woordvoerder van Cosatu, Matthew Parks, sê die bank moet sy beleidskomiteevergadering in November gebruik om die terugkoopkoers met ten minste 50-basispunte af te bring:
# Die DA in Gauteng sê die waterkrisis in die Merafongstad-munisipaliteit weens Rand Water se rantsoenering, raak erger. Die munisipaliteit skuld Rand Water sowat 1,4-miljard-rand. Die instelling stel sedert verlede jaar waterbeperkings in by verskeie munisipaliteite in Gauteng, die Vrystaat en Mpumalanga om agterstallige skuld in te vorder. Carl Steenekamp van die DA sê hulle sal voortgaan om druk te plaas op mense in magsposisies om die munisipaliteit aanspreeklik te hou:
# Die voormalige vise-president van Amerika, Kamala Harris, het president Donald Trump se administrasie kritiseer oor sy aanslag op vryheid van spraak en sê dis blatante magmisbruik. Dit volg op die onbepaalde opskorting van Jimmy Kimmel se laataandprogram van ABC weens sy opmerkings oor die sluipmoord op die regse aktivis Charlie Kirk. Harris sê die Trump-administrasie val kritici aan en gebruik vrees as wapen om enige iemand wat ‘n mening lig, stil te maak. Volgens haar gee mediamaatskappye, van televisienetwerke tot koerante, oor aan hierdie dreigemente.
# Sokker: Die vyfmalige wenners, Barcelona, het hulle Kampioenskapsliga-veldtog op ʼn wen-noot afgeskop toe hulle Newcastle United op St James Park met 2-1 verslaan het. Marcus Rashford het twee vinnige doele in die tweede helfte aangeteken, terwyl Anthony Gordon in die 90ste minuut met een geslaag het. Erling Haaland spog met sy 50ste doel in die kompetisie, en Manchester City het Napoli met 2-0 afgeransel. Frankfurt het Galatasaray met 5-1 verpletter, terwyl Leverkusen en Kopenhagen se kragmeting gelykop geëindig het met twee elk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-46-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-658-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….