Nuus 09:00
BULLETIN 11 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Wetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers moet onmiddellik ingedien word
# Die Konstitusionele Hof beslis oor mans wat hul vrouens se vanne aanneem
# En Kamala Harris sê Biden se herverkiesingsveldtog was roekeloos
# Die DA doen ‘n beroep op die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, om sonder versuim die langverwagte Wetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers in die Parlement ter tafel te lê. Glynnis Breytenbach van die party sê die wrede moord op Bouwer van Niekerk, wat by sy regsfirma doodgeskiet is terwyl hy korrupsie sou ontbloot, bevestig Suid-Afrika is nou ʼn mafiastaat. Sy sê die DA gaan nie toelaat dat die wetsontwerp onder eindelose vertragings begrawe word nie:
# Die Konstitusionele Hof moet besluit of mans hul vroue se vanne ná die huwelik kan aanneem. Dit volg nadat twee paartjies, Jana Jordaan en Henry Van Der Merwe, en Jess Donnelly-Bornman en Andreas Nicolas Bornman, dele van Artikel 26 van die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes betwis het en aangevoer het dit is onregverdig en kom neer op diskriminasie. Die Vrystaatse Hooggeregshof het dit voorheen ongrondwetlik bevind, maar die uitspraak moet nou deur die Hoogste Hof bevestig word.
# Die GOOD-party sê daar is geen behoorlike plan in Kaapstad om bendegeweld te hanteer nie. Syfers toon 81-persent van alle moorde in die provinsie word in Kaapstad gepleeg. Een uit elke vyf moorde hou verband met bendegeweld. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê meer as ʼn jaar nadat die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad ʼn samewerkingsooreenkoms met die polisie onderteken het, is die beloofde gesamentlike reaksie op misdaad steeds net op papier:
# Die voormalige visepresident van Amerika, Kamala Harris, het die gewese president Joe Biden se besluit om ‘n tweede termyn te staan as roekeloos beskryf. In ‘n uittreksel van haar boek 107 Days, sê sy die keuse behoort nie oorgelaat te word aan ‘n individu se ego of ambisie nie. Sy sê ‘n deel van die probleem was Biden se span wat so vasbeslote was om haar nie te help nie dat dit tot sy eie en die land se verlies gelei het. Sy meen Biden se keuse om in ‘n herverkiesing te staan moes meer as ‘n persoonlike keuse gewees het.
# Tennis: Australië se Davisbeker-kaptein, Lleyton Hewitt, is vir twee weke geskors vir aanstootlike gedrag nadat hy skuldig bevind is dat hy ‘n opkikkerbeheerbeampte gestamp het. Die voormalige wêreld-nommer-een is ook met 350-duisend-rand beboet ingevolge ‘n beslissing van ‘n onafhanklike tribunaal van Tennis se Teen-opkikkerprogram. Die Internasionale Tennis-integriteitagentskap sê die 44-jarige is in Januarie aangekla nadat hy twee maande tevore ‘n 60-jarige vrywillige teen-opkikker-begeleier gestamp het nadat Australië in die halfeindronde in Spanje teen Italië verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-198-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-633-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….