Nuus 09:00
BULLETIN 9 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement is bekommerd oor die afname in indiensneming in die uitsaai- en poswesesektore
# Saftu eis die terugtrekking van die Kode van Goeie Praktyk oor Afdanking
# En Frankryk is in ‘n politieke krisis ná ’n mosie van wantroue in sy eerste minister
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë het kommer uitgespreek oor die 12,3-persent afname in indiensneming in die telekommunikasie-, uitsaai- en possektor. Die parlementêre ekonomiese groepering het die media gister ingelig. Die komiteevoorsitter, Khusela Sangoni Diko, sê hierdie daling weerspieël groter ekonomiese druk, maar beklemtoon ook strukturele swakhede in die sektor. Sy sê hulle verwag van die regering om dapper, beslissend en vernuwend te lei om die digitale ekonomie se volle potensiaal te ontsluit:
# Die Suid-Afrikaanse Vakbondfederasie, Saftu, het die Departement van Indiensneming en Arbeid se besluit veroordeel om die Kode van Goeie Praktyk oor Afdanking in die Staatskoerant af te kondig. Die nuwe Kode verskaf riglyne aan werkgewers, werknemers en andere oor hulle wetlike verpligtings vir die beëindiging van indiensneming ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudings. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê die afkondiging van die wetgewing is sonder Parlementêre oorsig gedoen en in stryd met die voorleggings van meer as 30 organisasies:
# Die Stad Tshwane sê alles is gereed vir sy eerste Tshwane-beleggingsberaad môre. Die geleentheid, met die tema “Tshwane Rising”, is gemik om beduidende beleggings te lok en die metro se enorme ekonomiese potensiaal te ontsluit. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê hulle mik om vyf-miljard-rand se beleggings by die mylpaalgeleentheid te verseker. Sy voeg by dat hulle beplan om die plaaslike ekonomie teen ‘n gemiddeld van 3,9-persent teen 2029 te laat groei:
# Die Franse Parlement het deur ‘n wantroue-mosie gestem om premier François Bayrou te verwyder, wat die land in ‘n nuwe politieke krisis gedompel het. ‘n Totaal van 364 parlementslede het teen hom gestem en 194 vir hom. Dit volg na hy vir ‘n stemming gevra het in ‘n poging om ‘n ongewilde besparingsplan deur te voer wat die skrapping van twee openbare vakansiedae en die bevriesing van staatsbesteding ingesluit het. Die 74-jarige sal vandag sy bedanking aan president Emmanuel Macron oorhandig, wat nou ‘n vyfde premier in minder as twee jaar moet aanstel.
# Sokker: Manchester City en die Premierliga het ‘n skikking bereik oor hulle geskil oor die reëls wat Verwante Party-transaksies beheer. Die klub het ‘n regsgeding aanhangig gemaak waarin hulle beweer het dat die gewysigde APT-reëls onwettig is. Die reëls is ontwerp om te verhoed dat klubs borgskapooreenkomste van verwante partye bekom wat nie as van billike markwaarde beskou word nie. Die skikking hou nie verband met die verhoor oor die 115 aanklagte wat die Premierliga teen die klub wat deur Abu Dhabi besit word, aanhangig gemaak is vir beweerde oortreding van finansiële regulasies nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-47-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-984-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-651-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….