Nuus 09:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Didiza is tevrede met die landbousektor se positiewe bydrae tot werkskepping
# Tesourie onttrek die voorgestelde wysiging aan die Wet op Inkomstebelasting
# En, die Webb Ellis-trofee is veilig na ‘n inbraak by SA Rugby se hoofkantoor
# Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, sê sy is tevrede met die landbousektor se positiewe bydrae tot werkskepping in die land. Die jongste kwartaallikse indiensnemingsopname se inligting toon die landbousektor het in die derde kwartaal weer 61-duisend nuwe werksgeleenthede geskep wat die totaal tot 956-duisend opstoot. Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê dis die hoogste indiensnemingsyfer in landbou sedert die begin van die moderne demokratiese era:
Speel klankgreep: ENG ReggieonSector
# Die Nasionale Tesourie het die voorgestelde wysiging aan die Wet op Inkomstebelasting teruggetrek. Dit hou verband met reëls wat aflandige instellings van Suid-Afrikaanse multi-nasionale burgers beheer. Die wysiging het ten doel om die Appèlhof se besluit in die Coronation-saak in werking te stel. Ondanks die terugtrekking weens verrigtinge in die Konstitusionele Hof, word wetsveranderings verwag wat maatskappye met soortgelyke aflandige strukture sal raak. Belastingkenners verwag moontlike wysigings ondanks die hofuitspraak. Die Konstitusionele Hof se besluit kan lei tot die herinstelling van die voorgestelde wysiging.
# Die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal sê hy werk nóύ saam met die gespesialiseerde multidissiplinêre taakspan vir ekonomiese infrastruktuur om skade aan en diefstal van ekonomiese infrastruktuur te beskerm. Die munisipaliteit se woordvoerder, Gugu Sisilana, sê interne ondersoeke is ook aan die gang om misdaadsindikate te ontbloot wat betrokke is by die diefstal van noodsaaklike ekonomiese infrastruktuur. Sy sê dit sluit in koperkabels, elektriese geleiers, skrootmetaal, straatligte en elektriese passtukke:
Speel klankgreep: ENG GuguonInfrastructureCrime
# Die Palestynse militêre groep Hamas sê hy blameer die Amerikaanse president Joe Biden dat die Israelse weermag ʼn operasie by die Al-Shifa-hospitaal in Gaza-stad uitgevoer het. Israel sê Hamas het sy hoofkwartier in bunkers en tonnels onder die hospitaal gebou en gebruik dus pasiënte en personeel as ʼn menslike skild. Amerika sê hy beskik oor intelligensie wat Israel se bewering staaf. Hamas ontken dat hy die hospitaal vir sy operasies gebruik en vra dat ʼn internasionale komitee inspeksie kom doen.
# Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie sê alle trofeë, insluitend ʼn replika van die Webb Ellis-beker, is veilig nadat daar Maandagaand by SA Rugby se hoofkantoor in Plattekloof, Kaapstad, ingebreek is. Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, FC van Wyk, sê twee verdagtes het deur ʼn venster op die grondvloer toegang gekry tot die kantoorkompleks wat onder andere Saru House huisves. Hy sê by die eerste maatskappy is vyf getekende Springbok-truie, whisky en agt skootrekenaars gesteel. By ‘n ander maatskappy is 60 skootrekenaars gesteel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 35-duisend-513-dollar-3-sent. Die prys van goud is een-duisend-967-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….