Nuus 09:00
BULLETIN 6 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Cyril Ramaphosa sleep voete oor die geskorste Johannesburgse NVG-baas
# Die Athlone-hof skietslagoffer was aangekla vir aanranding
# En Rugby: Die Springbokvroue is reg vir die beslissende Groep D Wêreldbekerwedstryd teen Frankryk
# Die DA het president Cyril Ramaphosa gekritiseer omdat hy die dissiplinêre ondersoek na die geskorste Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Andrew Chauke, vertraag het. Chauke, wat onder oudpresident Jacob Zuma aangestel is, het volgens berigte polities-verbonde figure beskerm. Die DA-lid, Glynnis Breytenbach, sê 45 dae het verloop sedert Chauke se skorsing, maar geen ondersoek het begin nie en hy verdien steeds ‘n volle salaris. Breytenbach beskuldig Ramaphosa omdat hy ‘n krisis in die Nasionale Vervolgingsgesag ignoreer.
# Die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling het bevestig dat die persoon wat gister buite die Athlone Landdroskantoor doodgeskiet is, ‘n man was wat op klagtes van aanranding moes verskyn. Volgens voorlopige berigte het die insident by die ingangshek gebeur, met die man wat in die binnehof, ‘n paar meter van die hoofingang, inmekaar gesak het. Sekuriteitspanne staan die polisie by wat die ondersoek lei. Die motief word ondersoek. Die Departement het sedertdien die moord veroordeel en belowe beter veiligheid en sekuriteit by howe.
# Die Namibiese parlement se staande kommittee oor Natuurlike Hulpbronne vra dat wetenskaplike bewyse die lot moet bepaal van die gestaakte Uranium One-projek naby Leonardville in Namibië. Die myn wat deur Rusland ondersteun word, onder leiding van Headspring Investments, staar vertragings, regsgedinge en vrese oor grondwaterbesoedeling in die belangrike Stamprietwaterdraer in die gesig. Die gebruik van in-situ-herwinningsmetodes het omgewingsbekommernisse veroorsaak. Die woordvoerder van Uranium One, Riaan van Rooyen, sê die wetgewers beklemtoon dat menings van onafhanklike kenners ingewin moet word voor permitte uitgereik kan word:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê A-pokke verteenwoordig nie meer ‘n globale openbare gesondheidsnoodtoestand nie. Dit volg ná ‘n bestendige afname in gevalle en sterftes in die Demokratiese Republiek die Kongo en ander lande. Die organisasie het in Augustus 2024 ‘n openbare gesondheidsnoodtoestand verklaar nadat ‘n tweeledige A-pokke-epidemie uitgebreek het, hoofsaaklik in die DRK. Die WGO-hoof Tedros Adhanom Ghebreyesus het die noodtoestand opgehef ná ‘n kwartaallikse vergadering van die VN-gesondheidsagentskap se noodkomitee oor die uitbreking.
# Rugby: Opwinding vir die Springbokke se wedstryd teen die All Blacks in die derde ronde van die Rugby Kampioenskap in Eden Park Nieu-Seeland het ‘n hoogtepunt bereik met die wedstryd wat binne oomblikke gaan begin. Die Bokke moet ‘n punt bewys want hulle kon nie die All Blacks op Eden Park sedert 1937 klop nie. Intussen het die Wallabies in hulle derderonde ontmoeting in Queensland Argentinië met 28-24 geklop – dit nadat die Pumas met 21 -7 teen rustyd voor was.
# Rugby: Die assistentafrigter van die Springbokvroue, Laurian Johannes-Haupt, sê die span is besig met hulle finale voorbereidings voor hulle wedstryd môre teen Frankryk in Northampton in hulle laaste Groep D-wedstryd van die Vroue-Wêreldbeker. Frankryk, wat vierde op die wêreldrangleer is, sal ‘n uitdagende wedstryd wees voordat die Bokke teen Nieu-Seeland of Ierland in die volgende ronde speel. Sy beklemtoon al is hulle plek in die kwarteindstryd verseker, gaan die Bokvroue Sondag speel om te wen en nie net om deel te nie:
# En Motorsport: Formule Een het aangekondig dat die Monaco Grand Prix tot 2035 by die baan aangebied sal word. Die ikoniese wedren langs die Middellandse See is al deel van Formule Een sedert die eerste seisoen in 1950. Die uitvoerende hoof en president van Formule Een, Stefano Domenicali, sê dit is ‘n beroemde wedren en is geliefd by bestuurders en ondersteuners, met ‘n unieke atmosfeer danksy sy ligging in die wêreld se glansrykste prinsdom. Die volgende wedren van hierdie seisoen is die Italiaanse Grand Prix môre by Monza.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….