Nuus 09:00
BULLETIN 4 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Finansies sê infrastruktuur bly ‘n katalisator vir ekonomiese groei
# Cosatu sê regeringsoptrede is nodig om elektrisiteitspryse te verlaag
# En tennis: Dit is Sinner teen Auger-Aliassime en Osaka teen Anisimova in die Amerikaanse Ope-halfeindronde
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sê infrastruktuur is steeds ‘n katalisator vir volhoubare en inklusiewe ekonomiese groei. Die regering sal oor die volgende drie jaar meer as 940-miljard-rand aan infrastruktuur bestee, wat 375-miljard- rand in besteding deur staatsinstellings insluit. Dié befondsing sal paaie en brûe opknap, damme en waterweë bou, hawens en lughawens moderniseer, en die ekonomie aandryf. Masondo sê die volgehoue infrastruktuurgaping, tesame met die beperkte fiskale ruimte, moet aangespreek word:
# Cosatu doen ‘n beroep vir onmiddellike regeringsoptrede om stygende kragpryse te verlaag ten einde ‘n werksgeleentheid-slagting te voorkom. Die vakbondfederasie sê sedert beurtkrag in 2006 begin het, het kragpryse met meer as 450-persent gestyg. Matthew Parks van Cosatu sê die ekonomie kan nie langer die massiewe finansiële verliese van Eskom se vermoë om bekostigbare elektrisiteit te voorsien, bekostig nie:
# Die DA verwelkom die burgemeester van Stellenbosch, Jeremy Fasser se besluit om ‘n spesiale raadsvergadering te hou om die saak van die bestuurder van menslike hulpbronne, Alexander Kannemeyer, te hanteer. Dit volg nadat ‘n video van 2023 uitgelek het waarin Kannemeyer voorstel wit werknemers moet ongemaklik gemaak word totdat hulle bedank. ‘n Ondersoek teen Kannemeyer is ingestel. Willie Aucamp van die DA sê rasgegronde en boeliegedrag van enige aard het geen plek in enige werkomgewing nie:
# Die Verenigde Arabiese Emirate het Israel gewaarsku dat die anneksasie van die besette Wesoewer ‘n rooilyn sal oorskry en die strewe na streeksintegrasie beëindig. Die Israelse premier Benjamin Netanyahu sal vandag ‘n kabinetsvergadering byeenroep om anneksasie te bespreek. Dit is in reaksie op die planne van verskeie groot Westerse lande om ‘n Palestynse staat te erken. Die VAE se ministerie van buitelandse sake sê anneksasie in die Wesoewer sal die konsensus oor wat die trajek van hierdie konflik moet wees, verander: twee state wat langs mekaar in vrede leef.
# Tennis: Die verdedigende kampioen Jannik Sinner pak die Kanadees Felix Auger-Aliassime in die halfeindstryd van die Amerikaanse Ope. Die Italiaan het sy landgenoot Lorenzo Musetti in drie stelle verslaan. Auger-Aliassime het die Australiër Alex de Minaur in meer as vier uur geklop om vir die eerste keer sedert 2021 die halfeindstryd by ‘n groot toernooi te haal. In die vroue-loting het die tweemalige kampioen Naomi Osaka van Japan die Tsjeg Karolina Muchova in twee stelle verslaan. Sy kom teen Amanda Anisimova in die halfeindstryd te staan, nadat die Amerikaner vir Iga Swiatek van Pole uitgeskakel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-196-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-531-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….