Nuus 09:00
BULLETIN 7 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan optree na aanleiding van Mkhwanazi se bewerings
# Die EFF eis die onmiddellike skorsing van minister Mchunu
# En Netanyahu sien uit na sy ontmoeting met Trump in Washington
# President Cyril Ramaphosa sê die verklarings deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, veroorsaak ernstige kommer oor nasionale veiligheid en verdien dringende aandag. Mkhwanazi het Sondag tydens ‘n mediakonferensie die polisieminister, Senzo Mchunu, beskuldig dat hy inmeng by ondersoeke en ʼn verskuilde agenda gehad het toe hy die taakspan vir politieke moorde ontbind het. Ramaphosa sê die integriteit van die land se sekerheidsdienste moet beskerm word. Hy sê hy sal optrede in die saak uiteensit wanneer hy terugkeer van Brasilië af.
Intussen eis die EFF die onmiddellike skorsing van die minister van Polisie Senzo Mchunu en die adjunk-nasionale kommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Thambo, sê die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, moet ‘n dringende sitting byeenroep vir ‘n inligtingsessie deur minister Mchunu oor die bewerings van Mkhwanazi:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, gaan ‘n ondersoekverslag ontvang oor die bevindinge van ‘n Artikel 59-ondersoekpaneel. Die paneel het ondersoek ingestel na bewerings van rassediskriminasie deur mediese skemas teen swart gesondheidsorgverskaffers in die land. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê lede van die Nasionale Vereniging van Gesondheidsorgberoepslui en Solutionist Thinkers het in Mei 2019 beweer mediese skemas diskrimineer teen hulle en hulle eise word op grond van ras teruggehou:
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu sê sy ontmoeting vandag met president Donald Trump in Washington behoort by te dra tot ʼn ooreenkoms om nog gyselaars vry te laat en ʼn skietstilstand in Gaza te bereik. Dit volg nadat die jongste ronde samesprekings vir ʼn skietstilstand Sondag in Doha misluk het. Netanyahu sê 205 van 255 gyselaars is reeds vrygelaat waarvan 148 nog lewe. Daar is 20 lewende gyselaars en 30 wat gesterf het in Gaza oor. Hy sê hulle is vasbeslote om seker te maak Gaza is nie meer ʼn bedreiging vir Israel nie.
# Krieket: Indië het Engeland met 336 lopies in die tweede toets op Edgbaston geklop om die reeks van vyf wedstryde een elk gelykop te maak. Die gashere het ‘n reusetaak gehad om 608 lopies te jaag, maar is vir 271 voor teetyd op die vyfde en laaste dag uitgehaal. Akash Deep van Indië het deurgaans met die bal beïndruk en altesaam tien paaltjes ingeoes. Die derde toets op Lords begin Donderdag. Engeland se kaptein, Ben Stokes sê die kolfblad was ‘n probleem vir sy span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-266-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-307-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….