Nuus 09:00
BULLETIN 6 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen veroordeel die Nasionale Dialoog as ‘n duur gepratery
# ‘n Arbeidsadvokaat vra vir ‘n dringende spookwerker-oudit in alle regeringsdepartemente
# En fietsry: Jasper Philipsen wen die eerste geeltrui in die Tour de France
# Die DA-leier John Steenhuisen sê die komende Nasionale Dialoog sal ‘n geweldige duur proses wees met baie pratery, maar sal niks doen om bekommerde Suid-Afrikaners te help nie. Hy sê ‘n ope brief deur oudpresident Thabo Mbeki het bevestig dat die dialoog se doel is om die ANC te bevoordeel. Mbeki en president Cyril Ramaphosa het Steenhuisen en die DA vroeër gekritiseer omdat hulle aan die Nasionale Dialoog onttrek het, ná die afdanking van voormalige adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield. Steenhuisen sê die dialoog is duidelik ‘n poging deur die ANC om sy ontnugterde kiesers te bereik.
# Die ministerie van Verdediging en Militêre Veterane het met kommer kennis geneem van ‘n “misleidende” sosialemediaplasing deur die DA, wat minister Angie Motshekga se naam beswadder. ‘n Woordvoerder van die ministerie, Onicca Kwakwa, sê dit verwys na toelaes wat verskuldig is aan lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat as deel van die SAOG-sending in die Demokratiese Republiek van Kongo ontplooi was. Sy sê daar is geen vermiste miljoene nie en die bewerings is vals, ongegrond en doelbewus misleidend:
# ‘n Deurwinterde arbeidsadvokaat, Michael Bagraim, het gevra vir ‘n deurtastende spookwerker-oudit in alle nasionale en provinsiale regeringsdepartemente. Hy sê in Mei vanjaar het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, ‘n uitgawe-oorsig vir opruiming van meer as 300-miljard-rand sedert 2013 bekend gemaak om ondoeltreffende regering, insluitend spookwerknemers, uit te roei. Bagraim sê spookwerknemers in die staatsdiens is ‘n medium vir sistemiese korrupsie:
# Veldbrande het uitgebreek op ‘n eiland en in dorpe naby Athene in Griekeland, met Turkye en Sirië wat ook deurloop. Twee dorpe op die eiland Evia is ontruim nadat ‘n brand laat Vrydag uitgebreek het. Meer as 160 brandbestryders, 46 brandweerwaens en vyf vliegtuie is na die eiland ontplooi. Evia is een van verskeie streke in Griekeland wat op hoë gereedheidsgrondslag geplaas is vir veldbrande met stormsterk winde wat oor die naweek verwag is. Dit is die jongste brande in Griekeland, waar dit algemeen voorkom gedurende die warm somermaande.
# En ten slotte sportnuus:
# Motorsport: Max Verstappen van Red Bull spring eerste weg in die Britse Grand Prix na gister se kwalifiserende ronde by Silverstone. Die kampioenskapsvoorloper, Oscar Piastri van McLaren, is langs die Nederlander in vandag se wedren. Piastri was op koers om voor te begin, maar Verstappen het dit met ‘n perfekte laaste ronde en slegs ‘n tiende van ‘n sekonde voor die Australiër weggeraap. Piastri se spanmaat, Lando Norris, begin in die tweede ry, met die Mercedes van George Russell langs hom. Lewis Hamilton en Charles Leclerc van Ferrari spring in die derde ry weg.
# En fietsry: Daar was gemengde gevoelens onder die duisende Belgiese ondersteuners wat gister oor die grens gestroom het vir die eerste skof van die Tour de France. Die Belg Jasper Philipsen was eerste, maar sy landgenoot Remco Evenepoel het waardevolle tyd verloor. Philipsen het die geel trui gewen in dolle snelrit in die noordelike stad Lille, terwyl die dubbele Olimpiese kampioen Evenepoel in ‘n tweede groep vasgevang was en ongeveer 40 sekondes verloor het. Philipsen begin vandag in geel in die heuwelagtige tweede skof van 209 kilometer tot by die strand van Boulogne-sur-mer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….