Nuus 09:00
BULLETIN 4 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# NERSA keur Sasol Gas se maksimumprys-aansoek goed
# Zimbabwe word deur landwye kragonderbreking getref
# En rugby: Geskiedenis is gemaak met die opening van die eerste Springbok-winkel
# Die Nasionale Energiereguleerder het Sasol Gas se aansoek om ‘n maksimumgasprys van 1 Julie 2025 tot 30 Junie 2026 vas te stel, goedgekeur. NERSA-woordvoerder Charles Hlebela sê die reguleerder het ʼn maksimum gasprys van 87-rand-04-sent per gigajoule per jaar vir eindverbruikers goedgekeur en 82-rand-62-sent per gigajoule per jaar vir derdeparty-handelaars en herverkopers. Hy sê die reguleerder het ook ʼn minimum van 5-persent afslag op die maksimumgasprys goedgekeur vir derdeparty-handelaars en herverkopers.
Intussen het Zimbabwe gistermiddag ‘n landwye kragonderbreking gehad na ‘n reuse-stelselfout kragopwekking by die land se hoofbronne, die Kariba- en Hwange-kragstasies, uitgeskop het. Die staat se kragmaatskappy ZESA sê die onderbreking het ook verbindings met streekverskaffers in Suid-Afrika, Zambië en Mosambiek onderbreek. Zimbabwe se kragstelsel ondervind reeds in die afgelope jare toenemend druk weens verouderde infrastruktuur, herhalende onderbrekings by termiese kragaanlegte en daling in die watervlak van die Kariba-dam wat die land se grootste hidroëlektriese kragstasie aandryf.
# Tongaat Hulett het ‘n sterk ommeswaai in sy bedrywighede aangekondig, met sy drie Suid-Afrikaanse suikermeule wat hierdie seisoen as die voorste geriewe vir die ontginning van suiker aangewys is. Die onderneming skryf die verbetering toe aan ‘n belegging van een-miljard-rand wat die opgradering van infrastruktuur en die aanstelling van geskoolde personeel insluit. Tongaat Hulett se uitvoerende hoof, Gavin Dalgleish, sê die sakereddingsplan is byna voltooi en die nuwe eienaars, Vision Consortium, sal binnekort oorneem:
#Meer as 230 brandweerbeamptes, 46 voertuie en 10 helikopters sukkel om die veldbrand op Griekeland se grootste eiland Kreta onder beheer te bring en die owerheid het massa-ontruiming afgekondig. Die brand het naby Ierapetra, ‘n dorp aan die eiland se suidkus uitgebreek te midde van temperature van 3 tot 5 grade Celsius bo die normale en ‘n stormsterk wind van sowat 80 kilometer per uur. Die brand het vinnig versprei en huise, hotelle en ander toeriste-verblyfplekke bereik. Veldbrande het vandeesweek ook deur ander Europese lande gewoed waar ‘n ongenadige hittegolf ondervind word.
# Rugby: ʼn Nuwe hoofstuk in Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis begin vandag wanneer die heel eerste Springbok-winkel in die Sandton City-winkelsentrum in Johannesburg sy deure open. Die winkel is Donderdag tydens ʼn spesiale seremonie ingewy en het die amptelike Nike-replikaspandrag asook ʼn opwindende nuwe klerereeks, Springboks, vir ondersteuners wat orals gedra kan word. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die winkel in Protea Court in Sandton City, sal die Springbok-handelsmerk na plekke neem waar dit nog nooit was nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-49-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-178-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….