Nuus 09:00
BULLETIN 30 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC neem die DA-dreigemente ernstig op
# Die hittegolf in Europa duur voort met Spanje wat 46 grade aanteken
# En rugby: Die Junior Bokke het Engeland in die visier nadat hulle Australië in die O.20-kampioenskap kafdraf
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hulle beskou die DA se dreigement om aan die Nasionale Dialoog te onttrek en nie belangrike begrotings in die Parlement te steun nie, in ‘n ernstige lig. Mbalula sê president Cyril Ramaphosa het sy internasionale reis na Spanje gekanselleer in afwagting op die DA se aankondiging die naweek. Hy sê spanning tussen die ANC en DA het toegeneem nadat Ramaphosa die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Medeinging, Andrew Whitfield, afgedank het:
# Die GOOD-party sê hy verwelkom die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se bekendmaking van 47 afgehandelde forensiese ondersoekverslae as deel van sy teen-korrupsieveldtog. GOOD sê dit sluit sake in uit 2016, en is ‘n welkome stap in die rigting van deursigtigheid en verantwoordbaarheid in Gauteng. GOOD se voorsitter, Matthew Cook, sê hulle doen ‘n beroep op Lesufi en die provinsiale regering om toe te sien dat elke aanbeveling in dié verslae in werking gestel word:
# Kaapstad het vier groot informele handelsplanne goedgekeur, wat byna 800 nuwe handelsgeleenthede regoor die stad skep. Sleutelgebiede sluit in die Mamre, Pella, Elsiesrivier, 416 staanplekke op die Parade en 265 staanplekke in Gatesville. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die inisiatief wil infrastruktuur verbeter, handelaars ondersteun en ekonomiese aktiwiteit bevorder. Hy sê dis deel van die poging om plaaslike ekonomieë en gemeenskapsontwikkeling te ondersteun.
# ʼn Groot deel van Europa loop deur onder ʼn hittegolf en owerhede het in talle lande gesondheidswaarskuwings uitgereik. Die suide van Spanje word die ergste geraak en ʼn nuwe rekord van 46 grade Celsius is Saterdag in die dorp, El Granado, aangeteken. Volgens Spanje se nasionale weerdiens is hierdie maand die warmste Junie op rekord. Rooi hittewaarskuwings is uitgereik in dele van Portugal, Italië en Kroasië, met talle geel waarskuwings in die res van Europa.
# Rugby: Die Springbok-slot Jean Kleyn is nie beskikbaar vir die eerste wedstryd van die Castle Lager tuisreeks nie nadat hy Saterdag beseer is in die span se 54-7-sege teen die Barbarians. Kleyn keer terug na die Ierse klub, Munster, om van die besering te herstel. Die Springbokke het weggespring met veldvoorbereiding vir Saterdag se eerste amptelike toets van die seisoen teen Italië. Hulle speel ʼn week later weer teen Italië voor die reeks se laaste wedstryd teen Georgië op 19 Julie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-494-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-278-30-dollar-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….