Nuus 09:00
BULLETIN 25 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê bewerings oor die wenbod vir die loterylisensie sal ondersoek word
# Die regering sê hy bestuur die uitbreking van bek-en-klouseer
# En, ‘n uitgelekte Amerikaanse intelligensieverslag sê aanvalle het nié Iran se kernaanlegte vernietig nie
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê bewerings oor belangebotsings waarby die wenbieër van die loterylisensie betrek word, sal deeglik ondersoek word. Sizekhaya Holdings het die multi-miljard-rand tender vir die agt-jaar-loterylisensie gewen. Vrae het egter ontstaan oor beweerde bande tussen die maatskappy en adjunkpresident Paul Mashatile se skoonsuster. Tau sê hy sal nie die moontlikheid uitsluit om na die volgende bieër te gaan nie, maar hy voer aan hy is tevrede dat die proses om Sizekhaya te kies, billik was.
# Die regering sê die aankoms van entstof om die hardnekkige bek-en-klouseersiekte te bestry sal help teen die verspreiding van die siekte en biosekuriteit verbeter. Altesaam 900-duisend entstofampules wat van die Botswana Entstofinstituut verkry is, het verlede week in die land aangekom. Die siekte is in KwaZulu-Natal aangemeld wat die ergste geraak is, asook Gauteng, Noordwes en Mpumalanga. ‘n Regeringswoordvoerder, Kgomotso Ranoto sê inenting en die plasing van besmette eiendomme onder kwarantyn het begin:
# Die DA in Gauteng eis ‘n verduideliking oor waarom die ooreenkoms tussen die Emfuleni-munisipaliteit en Rand Water nie nagekom is nie. Dit het tot gevolg gehad dat daar op die munisipaliteit se bankrekenings beslag gelê is. Emfuleni se waterverlies het teen die einde van Maart 57,3-persent beloop. Elize Aucamp van die DA sê dit het gebeur ondanks die skepping van ‘n spesiale liggaam tussen Rand Water en die munisipaliteit om ‘n oplossing vir die waterprobleme te vind:
# ‘n Uitgelekte voorlopige Amerikaanse intelligensieverslag het tot die gevolgtrekking gekom dat kernkomponente van Iran se kernprogram nie vernietig is in Amerika se militêre aanvalle op drie aanlegte nie. Dit is ondanks president Donald Trump se aankondiging dat die aanvalle Iran se kernprogram uitgewis het. Volgens die Pentagon se Verdedigingsintelligensie-agentskap is Iran se voorraad hoogs verrykte uraan wat vir ‘n moontlike kernwapen gebruik kon word, voor die aanvalle verskuif. Hy voeg by dat sleutelkomponente van die kernprogram, insluitend verrykingstoerusting, binne maande weer in werking kan wees.
# Krieket: Engeland het 371 lopies gejaag om ‘n vyf-paaltjie oorwinning teen Indië in hulle eerste toets in Headingley. Die speler van die wedstryd, Ben Duckett, het 149 aangeteken in ‘n openingsvennootskap van 188 met Zak Crawley. Dit was Engeland se tiende suksesvolste lopiejaagtog in toetsgeskiedenis. Indië het 471 en 364 aangeteken, terwyl Engeland met 465 en 373 vir vyf in hulle onderskeie beurte aangeteken. Duckett sê dit is die ongelooflikste wedstryd wat hy nog ooit gespeel het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-25-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….