Nuus 09:00
BULLETIN 24 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Arbeidersparty wil ’n bevel teen die Nasionale Dialoog verkry
# Binnelandse Sake stel die nuwe Nasionale Bevolkingsregister-verifikasiediens bekend
# En Donald Trump praat steeds ‘n skietstilstandooreenkoms aan terwyl Iran ‘n nuwe vlaag missiele lanseer
# Die Arbeidersparty van Suid-Afrika het ‘n dringende aansoek by die Noord Gautengse Hooggeregshof ingedien teen president Cyril Ramaphosa se Nasionale Dialoog. Hy voer aan die proses is ongrondwetlik, irrasioneel, finansieel onverantwoordelik en dit sluit die werkersklas uit. Joseph Mathunjwa het aan Newzroom Afrika gesê die dialoog ontbreek die uitvoerende magte van die bestaande instellings soos die Parlement en die wetgewer:
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys en Opleiding, Tebogo Letsie, versoek die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente om dringend sy betalingsprobleme rondom studenteverblyf op te los. Letsie het met die voorsitters van die Parlement se Toesigkomitees vir Maatskaplike Dienste gepraat en veroordeel verskaffers wat sedert 2023 nie betaal nie en die stadige reaksie op appèlle. Hy eis dat geen studente uitgesluit moet word weens administratiewe mislukkings nie, omdat dit armoede aanvuur:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê ‘n opgegradeerde verifiëringsdiens van die Nasionale Bevolkingsregister aan alle maatskappye en staatsgebruikers begin op 1 Julie. Binnelandse Sake het die fooi om ʼn enkele intydse verifikasie na te gaan tot tien-rand per transaksie verhoog. Verifikasies wat nie intyds is nie, waar ʼn gebruiker verskeie rekords gelyktydig buite spitstyd wil nagaan, sal die koste een-rand per versoek wees. Schreiber sê die nuwe, meer doeltreffende stelsel sal ʼn ekonomiese katalisator wees omdat dit millisekondes neem om identiteite na te gaan.
# Israel se weermag sê Iran het vandag drie nuwe missielaanvalle op teikens in die land afgevuur. Drie mense is dood toe ʼn missiel ʼn woonstel in die suidelike Israelse stad Beersheba getref het. Intussen hou Amerika se president Donald Trump vol ʼn skietstilstand is bereik. Hy sê op Truth Social Israel en Iran het hom feitlik gelyktydig genader oor ʼn vredesooreenkoms. Hy sê albei lande sal groot liefde, vrede en voorspoed in hul toekoms ervaar.
# Rugby: Die Engelse afrigter, Steve Borthwick, het tien nuwelinge by sy groep van 36 spelers ingesluit vir hulle toer volgende maand na Argentinië en Amerika. Die span, wat deur die haker Jamie George en die losskakel George Ford aangevoer word, bestaan uit 20 voorspelers en 16 agterspelers. Die nuwelinge sluit in die trio van Bath, Will Muir, Max Ojomoh en Guy Pepper, asook Joe Carpenter van die Sale Sharks en Luke Northmore van Harlequins. Borthwick sê die reeks is ‘n geleentheid vir voortgesette ontwikkeling.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-859-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-349-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….