Nuus 09:00
BULLETIN 23 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Iranse ambassadeur by die VN veroordeel die VSA en Israel se aggressie
# Paul Mashatile se skoonsuster het bande met die multimiljard-rand nasionale loterylisensie
# En SADOU sê skoolbeheerliggame moet die toepassing van die Bela-wet eis
# Iran se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Amir Saeid Iravani, beskuldig Amerika dat hy kies om sy eie veiligheid roekeloos op te offer om Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, te beskerm. Amerika het die naweek Iranse kernaanlegte aangeval en Teheran het gewaarsku die gevolge gaan onherstelbaar wees. Iravani het gister tydens ‘n noodvergadering van die VN-veiligheidsraad gesê die aanbod van diplomasie oor kern-onderhandelings is ʼn beleid om die internasionale gemeenskap te mislei:
Die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê intussen die Amerikaanse aanval op Iranse kernfasiliteite dui op ‘n gevaarlike wending in die Midde-Ooste, ‘n streek wat nie nog ‘n siklus van vernietiging kan deurstaan nie. Hy het ook gister die noodvergadering van die VN-Veiligheidsraad in New York toegespreek. Guterres het ‘n beroep gedoen op ‘n staking van gevegte en ‘n terugkeer na ernstige, volgehoue onderhandelinge oor die Iranse kernprogram. Hy het Iran ook aangespoor om die VN se Kern-sperverdrag te vertrou:
# Die adjunkpresident, Paul Mashatile, se skoonsuster word verbind met Sizekhaya Holdings, wat die lisensie ontvang het om Suid-Afrika se nasionale lotery vir agt jaar te bedryf. Volgens die amaBhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek is Khumo Bogatsu ‘n mede-eienaar en mede-bestuurder van Bellamont Gaming, een van Sizekhaya se aandeelhouers. Die maatskappy ontken dat daar politieke inmenging by sy suksesvolle bod was. Hy voeg by Bogatsu beklee nie enige politieke ampte nie en is ten volle geregtig om enige wettige kommersiële belang na te streef.
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie het weer vir sy lede in skoolbeheerliggame landswyd gevra om die onwettige riglyne vir die instelling van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette te ignoreer. Dit volg nadat die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, riglyne oor skooltale en toelatings vrygestel het. Sadou se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê skoolbeheerliggame moet die toepassing van die BELA-regulasies eis:
# Motorsport: Die voorloper in die MotoGP-kampioenskap, Marc Márquez van Ducati is op pad na sy sewende wêreldtitel toe hy die Italiaanse Grand Prix gewen het, sy 93ste oorwinning in al die klasse. Sy broer Alex, van Gresini Racing, het tweede geëindig met Fabio Di Giannantonio van die VR46 Racing-span derde. Brad Binder van Suid-Afrika was negende vir die KTM Factory Racing-span. Márquez wat nou met 40 punte voorloop, sê dit is spesiaal om by die Mugello baan vir die eerste keer sedert 2014 te kon wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-31-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-359-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….