Nuus 09:00
BULLETIN 21 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika en Namibië streef na Afrika se hernuwing
# Die minister van Landbou sê rooivleis is veilig ten spyte van bek-en-klouseer-uitbrekings
# En die superseiljag Bayesian word van die seebodem gelig in ‘n bergingsoperasie
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en Namibië deel ‘n gemeenskaplike visie oor kwessies rondom die politieke en ekonomiese integrasie van die Afrika-vasteland. Ramaphosa het die Namibiese president Netumbo Nandi-Ndaitwah op ‘n hoflikheidsbesoek by sy ampswoning in Pretoria, Mahlamba Ndlopfu, ontvang. Hy sê beide lande streef na Afrika se hernuwing, suidelike samewerking en die bevordering van ‘n billike internasionale regeringstelsel gegrond op reëls:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het Suid-Afrikaners gerusgestel dat rooivleis in die land veilig is nadat bek-en-klouseer nou ook na die Noordwes-provinsie versprei het. ‘n Tweede bestelling entstowwe is sedertdien by die Botswana-entstofinstituut aangekoop, nadat die eerste besending vroeër die week aangekom het. Steenhuisen het Suid-Afrikaners gerusgestel dat rooivleis in die land veilig is om te eet:
# Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings het strafregtelike klagtes ingedien teen Daybreak Farms se direksie ná ’n ramp waarin meer as ‘n miljoen voëls gely het as gevolg van uiterste nalatigheid. ‘n Hooggeregshofbevel het Daybreak se reuse-wanbestuur bevestig en hulle beveel om onmenslike praktyke te staak. Die DBV het wydverspreide lyding ontdek en dit as ‘n ernstige morele mislukking beskryf. Hoewel die vereniging die regsgeskil gewen het, waarsku hy oor finansiële probleme aangesien Daybreak vrywillige sake-reddingsprosedures begin het wat koste-herwinning moeilik maak.
# Tien maande nadat die luukse seiljag die Bayesian tydens ‘n skielike storm langs die kus van Sisilië gesink het, kon herwinningspanne daarin slaag om die superjag Vrydagmiddag 50 meter diep van die seebodem af op te lig. Die maatskappy wat herwinning van 540-miljoen-rand uitvoer, sê die seiljag sou oor die naweek uitgelig word, maar die proses was vinniger as wat verwag is. Die seiljag van 56 meter, het op 19 Augustus verlede jaar gesink toe orkaansterkte wind in die gebied begin waai het. Sewe mense, insluitend die Britse tegnologiemagnaat Mike Lynch en sy 18-jarige dogter is dood, en 15 mense het oorleef.
# Krieket: Tazmin Brits het gisteraand ‘n sensasionele onoorwonne 98 van 63 balle gemoker om die Suid-Afrikaanse vrouespan met 50 lopies te laat seëvier teen die Wes-Indiese Eilande in hul T20-kragmeting in Barbados. Brits was van die begin van Suid-Afrika se beurt op die kolfblad en het haar span tot 183 vir ses gelei. Sy is as Speler van die Wedstryd aangewys. Dit is die Suid-Afrikaners se hoogste T20-telling teen die Wes-Indiese Eilande. Suid-Afrika loop nou 1-0 voor in die reeks van drie wedstryde.
# En ten slotte: SANParke het ’n saailing-plantveldtog van stapel gestuur langs die Woodcutters-roete in die Tafelberg Nasionale Park as deel van pogings om die Nuweland-bos te rehabiliteer. Dit wil die skade omkeer wat aangerig is met onwettige basstropery en sluit wetstoepassing, boomverf en bewusmakingsprogramme in. Meer as 50 inheemse bome sal geplant word met die samewerking van plaaslike vennote. Die eerste fase begin vanjaar en die tweede fase word vir volgende jaar beplan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….