Nuus 09:00
BULLETIN 20 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sê OPOD se agterstand in ondersoeke verswak openbare vertroue
# Die VF Plus verwelkom die optrede teen spazawinkels wat nie aan die regulasies voldoen nie
# En Rusland se minister van die Ekonomie sê die land is op die rand van ‘n resessie
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie sê vertragings in gevolgebestuur by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat verswak openbare vertroue en ondermyn interne dissipline. Opod het ‘n agterstand van 14-duisend-469 sake waarby polisiebeamptes betrek word, met aanklagte wat insluit sterftes in aanhouding, marteling en korrupsie. Die voorsitter van die komitee, Ian Cameron, sê die bykomende befondsing van 126,3-miljoen-rand oor die mediumtermyn sal hopelik aansienlik bydra tot die vermindering van die agterstand.
# Cosatu het die Openbare Beleggingskorporasie geprys nadat hy ‘n geskiedkundige drie-duisend-miljard-rand in bates aangekondig het. Dit is teenoor 2,7-duisend-miljard-rand verlede jaar en 1,8-duisend-miljard rand tydens Covid-19. Matthew Parks van Cosatu sê die korporasie moet voortgaan om werkers se fondse te beskerm en ekonomiese groei, werkskepping en volhoubare ontwikkeling in Suid-Afrika ondersteun:
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die sluiting van ses spazawinkels deur die metropolisie in Ekurhuleni omdat hulle onder meer nie aan gesondheidsregulasies voldoen het nie. Die spazawinkels is in Alberton, Edenvale en Katlehong. Jennifer Glover van die VF Plus sê daar is nog baie meer spazawinkels in die metro wat nie aan die basiese gesondheids- en veiligheidsregulasies voldoen nie, wat die gesondheid en welsyn van gemeenskappe in gevaar stel:
# Rusland se minister van Ekonomie, Maxim Reshetnikov, sê volgens huidige sakesentimente is die land se ekonomie op die rand van ‘n resessie. Moskou het vandeesmaand rentekoerse die eerste keer sedert 2022 verlaag wat die uitleenkoers op 20-persent te staan bring. Die land se ekonomiese groei het in die eerste kwartaal van 2025 op ʼn jaar tot jaar basis tot 1,4-persent verlangsaam wat die laagste kwartaallikse syfer in twee jaar is. Reshetnikov sê beleidsbesluite sal bepaal of ʼn resessie vermy kan word.
# Gholf: Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler het ‘n openingsronde van 62 aangeteken en is saam voor met sy Amerikaanse landgenoot Austin Eckroat by die Travelers-kampioenskap in Connecticut. Rory McIlroy van Noord-Ierland het ook goed begin en is twee houe agter, met ses onder, saam met die Amerikaners Keegan Bradley en Wyndham Clark. Tommy Fleetwood van Engeland en die Noorweër Viktor Hovland het ook sterk begin met 66 houe – vier houe agter die voorlopers. Scheffler sê hy is tevrede met sy begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-57-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-355-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….