Nuus 09:00
BULLETIN 18 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê die kabinet sal besluit oor die sluiting van die Israelse ambassade
# ActionSA sê geweldsmisdaad en geslagsgeweld is steeds buite beheer
# En die dokter wat vir Matthew Perry ketamien gegee het, gaan skuldig pleit
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die finale besluit om die Israelse ambassade in Suid-Afrika te sluit, word nog deur die kabinet verwerk. Die Parlement het die ambassade in 2023 afgegradeer weens Israel se voortdurende besetting van Palestynse gebiede. In reaksie op mondelinge vrae Dinsdag in die Nasionale Raad van Provinsies, het Lamola gesê alle faktore word oorweeg voordat ‘n finale besluit geneem kan word:
# Dereleen James van ActionSA sê die regering van nasionale eenheid het nie wet en orde gevestig nie, en dus verdien hy nie ‘n slaagsyfer nie. Sy het in ‘n oorsig van die RNE se eerste jaar gesê meer as vyf-duisend mense is vermoor en meer as 13-duisend seksuele oortredings is binne slegs drie maande aangemeld, wat ‘n nasionale krisis aandui. James sê gemeenskappe in die Wes-Kaap is in die greep van bendegeweld en korrupsie en swak hulpbronne beïnvloed die polisie se pogings:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap sê ‘n raadslid van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en tans EFF-parlementslid skuld die munisipaliteit 92-duisend-rand. Dit volg na ʼn oorbetaling tydens hul ampstermyn. Virgill Gericke is verkeerdelik 164-duisend-213-rand betaal as gevolg van ʼn portefeuljeverandering wat nie betyds aan die Finansiële Departement gekommunikeer is nie. Ashwill Oktober van GOOD sê ʼn dienende parlementslid kan nie voortgaan om voordeel te trek uit ʼn munisipale fout sonder om dit onmiddellik reg te stel nie:
# ‘n Dokter van Los Angeles het ingestem om te erken dat hy die Friends-akteur Matthew Perry ketamien gegee het voor sy dood weens ’n noodlottige oordosis. Aanklaers sê Salvador Plasencia kan moontlik tot 40-jaar tronkstraf gevonnis word. Hy is een van vyf mense wat aangekla is na Perry se dood. Die akteur se gereelde dokter het hom die medikasie gegee vir die wettige behandeling teen depressie, maar hy wou meer gehad het. Plasencia het die grootste gedeelte van die ketamien in sy laaste weke aan Perry voorsien.
# Tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz is deur na die ronde van 16 by Queens Club. Die Spanjaard het die Australiër Adam Walton geklop vir ‘n kragmeting teen sy landgenoot Jaume Munar. Die Amerikaner Taylor Fritz, wat pas die Stuttgart Ope gewen het, is deur Corentin Moutet van Frankryk in drie stelle verslaan. Nog ‘n Amerikaner, Ben Shelton is deur Arthur Rinderknech van Frankryk geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-254-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-393-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….