Nuus 09:00
BULLETIN 17 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê minister Godongwana sal oor die Nasionale Dialoog-begroting besluit
# Minister Simelane beoordeel die hulp aan die Oos-Kaapse vloedslagoffers
# En Donald Trump verlaat die G7-beraad voortydig
# Adjunk-president, Paul Mashatile, sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal die finale besluit neem oor die begroting vir die komende Nasionale Dialoog. Die eerste Nasionale Konvensie om die omvattende proses moontlik te maak, vind op 15 Augustus plaas. Die agenda vir die dialoog sal dan opgestel word. Die voorbereidingskomitee vir die dialoog skat die koste sal meer as 700-miljoen rand beloop. Mashatile sê Godongwana sal al die uitgawes vir die geleentheid beoordeel:
# Twaalf passasiers is dood toe ‘n bus en ʼn vragmotor gisteraand op die R34 naby Vryheid in KwaZulu-Natal reg van voor gebots het. Albei bestuurders het die voorval oorleef en is in die hospitaal opgeneem. Die woordvoerder van provinsiale Vervoer en Menslike Nedersettings, Ndabezinhle Sibiya, sê hulle ondersoek die moontlikheid dat die bus ʼn politieke party se ondersteuners vervoer het:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, gaan die volgende drie dae ‘n besoek aan die Oos-Kaap bring waar 90 mense in oorstromings dood is. Die minister en die provinsiale en munisipale leierskap sal oor hulp en ingrypings beraadslaag wat benodig word vir bystand aan die slagoffers van die oorstromings. Simelane se woordvoerder, Tsekiso Machike, sê bykans drie-duisend mense is geraak:
# President Donald Trump van Amerika keer ʼn dag vroeër terug van die G7-beraad in Kanada om verwikkelinge in die Midde-Ooste te monitor. Minstens 224 mense is sedert Vrydag in Israelse aanvalle dood terwyl 24 Israeli’s in Iranse wraakaanvalle dood is. Dit verander Trump se beplande bilaterale gesprekke met president Volodymyr Zelensky van Oekraïne en die Mexikaanse president, Claudia Sheinbaum. Trump het volgens berigte sy span opdrag gegee om so gou moontlike ʼn vergadering met Iranse amptenare te reël.
# Sokker: Banyana Banyana-voorspeler, Jermaine Seoposenwe, tree uit internasionale sokker na volgende maand se Vroue-Afrikanasiesbeker in Marokko. Die 31-jarige speler is een van tien wat meer as 100 keer vir Banyana uitgedraf het tydens haar loopbaan van 15 jaar wat in 2010 begin het. Sy het in twee Wêreldbekers gespeel en ʼn groot bydrae gelewer in Suid-Afrika se WAFCON-oorwinning in 2022. Seoposenwe sê dit was ʼn eer en voorreg om die land te verteenwoordig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-527-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-389-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….