Nuus 09:00
BULLETIN 16 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die regering van nasionale eenheid het na een jaar ‘n identiteitskrisis
# Suid-Afrikaners word gewaarsku teen die nuwe COVID-19-variant wat wêreldwyd versprei
# En, Suid-Afrika se Rayno Nel wen die Sterkman-kampioenskap in Holland
# Die politieke ontleder Bheki Mngomezulu sê die Regering van Nasionale Eenheid het ‘n identiteitskrisis. Dis vandeesweek een jaar sedert die RNE gevorm is nadat die ANC se steun in die 2024-verkiesing tot 40-persent gedaal het. Mngomezulu sê die koalisie se dienslewering is stadig met swak samehorigheid tussen ministers. Mngomezulu het met SABC News gepraat en gewaarsku moeilikheid lê voor tensy leiers politieke volwassenheid wys. Volgens hom bedreig die swak grondslag die koalisie se stabiliteit en nasionale vooruitgang:
# Suid-Afrikaners word versoek om te waak teen die nuwe COVID-19-variant, Nimbus, wat vinnig in die VSA, Asië en Europa versprei. Nimbus, wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as ‘n variant geklassifeer is wat gemonitor word, toon hoë oordraagbaarheid en nuwe mutasies. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika waarsku Shabir Madhi van die Wits Mediese Skool dat hoewel entstowwe effektief bly, is daar steeds kommer oor beperkte toegang vir hoërisiko-individue in Suid-Afrika:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid prioritiseer die herstel van kritieke infrastruktuur in hospitale wat deur die winter onder druk verkeer. Departementele woordvoerder, Motalatale Modiba, sê 100-miljoen-rand is toegeken om noodsaaklike toerusting te herstel en in stand te hou. Die Bertha Gxowa-hospitaal het reeds herstelwerk ondergaan, terwyl ander instellings soos die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal opgraderings ondergaan. Hy sê gebeurlikheidsplanne, insluitend mobiele eenhede, is in plek om ononderbroke pasiëntesorg te verseker:
# Dokters in Indië sê 270 liggame is op die toneel van Donderdag se Air India-vliegramp in Ahmedabad gevind. Die vliegtuig was op pad na Londen toe dit kort na opstyging in ‘n bewoonde gebied neergestort het. Net een persoon het oorleef, met die res van die 242 passasiers en bemanningslede aan boord wat almal dood is. Die Indiese ondersoekburo vir vliegtuigongelukke ondersoek die ramp met hulp deur Amerikaanse en Britse owerhede. Die vliegtuig se vlugopnemer is opgespoor en sal waarskynlik met die ondersoek help. Intussen is veiligheidstoetse aangevra vir al die Boeings in Air India se vloot.
#Tennis: Taylor Fritz het Alexander Zverev gister in Stuttgard in skoon stelle verslaan en sy eerste ATP-titel van die seisoen gewen. Die Amerikaner het ‘n maklike oorwinning van 6-3, 7-6 behaal ten spyte van ‘n reënonderbreking vroeg in die tweede stel. Fritz het nou sy laaste vyf wedstryde teen Zverev gewen en opgeskuif na die vierde plek op die wêreldranglys, net agter die Duitser. Zverev wag nog op die eerste grasbaantitel van sy loopbaan en het nog nooit vantevore die kwarteindstryd van Wimbledon gehaal nie. Die toernooi begin op 30 Junie in Londen.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse gewigopteller Rayno Nel is die wenner van die Sterkman Kampioenskap Wêreldtoer in Nederland waar hy 14 kragmanne van oor die wêreld uitgestof het. Dis sy derde agtereenvolgende titel. Die Hollander Kevin Hazeleger was tweede, met Adam Roszkowski van Pole in die derde plek. Nel het in Mei geskiedenis gemaak toe hy die eerste persoon uit Afrika geword het om die titel as die Wêreld se Sterkste Man in Amerika te wen. Hy is ook in 2024 in Turkye in die eindronde van die Sterkman Kampioenskap as die wenner aangewys. Die volgende byeenkoms van die kampioenskap is op 6 Julie in Kasakstan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….