Nuus 09:00
BULLETIN 14 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse premier waarsku teen die terugkeer na vloedgebiede
# Dis weer kalm in Meadowlands na betogings oor langdurige kragonderbrekings
# En Suid-Afrika kan ‘n groot belegging van die Groen Nywerheidsfonds ontvang
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, sê inwoners moenie terugkeer na vloedgebiede nie en sê die grond is onwettig en in privaat besit. Hy het beklemtoon dat munisipaliteite verordeninge moet afdwing om onbeheerde nedersettings in vloedgebiede te voorkom. Met die voorbereiding van tydelike huisvesting vir die dakloses, het Mabuyane gewaarsku dat mense nie kan terugkeer na onveilige grond nie. Hy het owerhede versoek om dringende stappe te doen om grondgebruik te reguleer en lewens te beskerm:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag is gereed om die Appèlhof te nader om ‘n Hooggeregshof-beslissing te hersien, ná die verwerping van hul aansoek om te appelleer in die asbesdaksaak teen Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota. Hulle voer aan die Hooggeregshof in die Vrystaat het verkeerdelik beslis dat die vervolgingsgesag geen jurisdiksie het om Cholota te verhoor nie. Die NVG se nasionale woordvoerder, Mthunzi Mhaga, hou vol die aanklagte teen Cholota kan steeds voortgaan in ‘n toekomstige verhoor:
# Die situasie is weer kalm in Meadowlands, Soweto, in Gauteng, ná versetoptrede oor langdurige kragonderbrekings. Gemeenskapslede het hierdie week die strate ingevaar en versper, en dringend ingryping geëis. Eskom het bevestig die toevoer in dele van die gebied is herstel, met tegnici wat steeds werk aan die heraansluiting van die oorblywende huise in Meadowlands Sone 1. ‘n Skoonheidsterapeut Bongiwe Zwane sê die onderbrekings het hul lewens ontwrig:
# Suid-Afrika is een van sewe ontwikkelende lande wat gekies is vir ‘n 17-miljard-rand program van die Wêreldbank om industriële kweekhuisgasvrystellings te verminder. Die inisiatief deur die Klimaatsbeleggingsfonds sluit Brasilië, Egipte, Mexiko, Namibië, Turkye en Oesbekistan in. Die lande is gekies vir hulle sterk privaat sektor-deelname en gereedheid vir industriële ontkoling. Projekte moet fokus op groenwaterstof, lae-koolstofmateriaal en herwinning van afvalhitte. Die Afrika Ontwikkelingsbank sê dit is ‘n belangrike stap in die strewe na ‘n toekoms sonder besoedeling.
# En om mee af te sluit sportnuus:
# Gholf: Die tweede ronde van die Amerikaanse Ope by Oakmont, Pennsilvanië, is weens storms en weerlig opgeskort. Thriston Lawrence van Suid-Afrika was op 4-oor in sy ronde na 17 putjies en 1-oor vir die toernooi toe spel gestaak is. Spel hervat vandag, voor die afsnypunt gefinaliseer word. Sam Burns, wat steeds voorloop, het die oggend 5-onder-65 aangeteken en die leiding geneem op 3-onder, een voor J.J. Spaun en twee voor Viktor Hovland.
# En sokker: Real Madrid het ‘n sesjaarkontrak met die tiener-spelmaker Franco Mastantuono van River Plate gesluit. Volgens die Spaanse media sal die 17-jarige aanvallende middelveldspeler Madrid 933-miljoen-rand kos, terwyl Argentynse berigte spekuleer dat die bedrag selfs 1,2-miljard-rand kan beloop. Mastantuono sal hierdie somer nog vir River Plate in die Klubwêreldbeker in Amerika speel voordat hy na die Spaanse hoofstad verhuis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….