Nuus 09:00
BULLETIN 13 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel het ‘n ongekende aanval op Iran se kerninstellings uitgevoer
# Action Society sê die land se moordsyfer is hoër as die oorlogsterftes in Gaza
# En atletiek: Armand Duplantis lewer nog ‘n uitstekende vertoning in Oslo
# Israel se weermag het bevestig dat hy vanoggend vroeg kernwapen-opslagplekke van Iran aangeval het as deel van Operasie Rising Lion. Die aanval het Iran se kernfasiliteite en sentrums vir ballistiese missiele geteiken. Die bevelvoerder van Iran se Islamitiese Revolusionêre mag, Hossein Salami, is volgens berigte in die aanvalle dood. ‘n Noodtoestand is in Israel afgekondig in afwagting op teenaanvalle. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê Iran mag nie een kernwapen hê nie:
# Action Society sê daar is verlede jaar meer as 26-duisend moorde in Suid-Afrika gepleeg, wat meer is as die dodetal in in die Gaza-konflik. Die organisasie het die ‘Dekade van Verval’-veldtog bekendgestel om die stygende misdaad en die regering se mislukking om burgers te beskerm, te beklemtoon. Juanita du Preez van Action Society doen ‘n beroep op dringende polisiehervorming, waaronder ‘n toegewyde taakmag om geslagsgeweldsake te hanteer en ondersoeke vinniger af te handel:
# Die Adjunk-minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield, sê die klerasie- en tekstielsektor speel ‘n kritieke rol in Suid-Afrika se ekonomiese herstel en herindustrialisasie. Die regering beoog om 100-duisend nuwe werksgeleenthede in vervaardiging te skep en wil uitvoere in die vervaardigingsektor met 4,1-persent opstoot. Whitfield sê die departement doen alles wat nodig is om die handelswanbalans reg te stel wat die enorme styging van 223 persent in invoere in die sektor tot gevolg gehad het.
# Die minibustaxi-taakspan het gister ‘n spesiale vergadering gehou te midde van konflik wat die afgelope weke tussen operateurs in Somerset-Wes en Mfuleni opgevlam het. Dit volg na die onlangse moorde op agt taxi-operateurs van die Kaapse tak van die Demokratiese Taxivereniging en die Kaapse Verenigde Taxivereniging in Mfuleni, Lwandle en Langa. Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, Rob Quintas, sê die vergadering was betekenisvol:
# Swede se Olimpiese kampioen Armand Duplantis het die paalspringtitel op die Diamantliga-byeenkoms in Oslo, Noorweë, verower. Hy het ook ‘n nuwe byeenkomsrekord van 6,15 meter opgestel, met Emmanouil Karalis van Griekeland tweede en Australië se Kurtis Marschall derde. Jo-Ané du Plessis van Suid-Afrika was derde in die vroue-spiesgooi, met Haruka Kitaguchi van Japan as wenner. In die 100-meter vir vroue was die Olimpiese kampioen, Julien Alfred eerste, gevolg deur Marie-Josée Ta Lou-Smith van die Ivoorkus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-945-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-437-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….