Nuus 09:00
BULLETIN 10 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wêreldbank keur ‘n infrastruktuurlening van 26,5-miljard-rand goed
# Die MK-party verwerp Helen Zille se voorneme om as burgemeester van Johannesburg te staan
# En die hulpvaartuig op pad na Gaza word na ‘n Israelse hawe gesleep
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê Suid-Afrika se voortgesette vennootskap met die Wêreldbank sal die land help om vinniger te vorder met hervormings van infrastruktuur. Dit volg nadat die Wêreldbank ‘n lening van sowat 26,5-miljard-rand goedgekeur het vir strukturele hervorming om infrastruktuur te verbeter. Die lening maak fondse beskikbaar dat Eskom die netwerk kan aanpas vir opwekking van hernubare energie en Transnet kan help om vragvervoervermoë uit te brei.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, woon die Ministeriële Koördineringsvergadering van die China-Afrika-samewerkingsforum in Changsha, Hunan-provinsie, van vandag tot Donderdag by. Die doel van die vergadering is om die instelling van die uitkomste van die 2024 FOCAC-beraad te bespreek. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê die FOCAC 2025–2027-aksieplan sluit in samewerking op tien vennootskapsgebiede, onder meer handelswelvaart, samewerking in die nywerheidsketting, konnektiwiteit en ontwikkelingsamewerking:
# Die MK-party sê hy verwerp die voorneme van die DA federale voorsitter, Helen Zille, om as burgemeesterskandidaat vir die Stad Johannesburg te staan. Zille het aangedui sy oorweeg die posisie in die 2026 plaaslike verkiesing. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela sê dit is onsinnig om die moontlikheid te oorweeg van ‘n Kaapstadse inwoner om die burgemeester van ‘n metro te word wat sy nie ken nie:
# Die Madleen van die Freedom Flotilla Coalition het gisteraand in die Israelse hawestad Asdod vasgemeer nadat Israel dit onderskep het. Die boot het humanitêre hulp en menseregte-aktiviste, insluitend die klimaataktivis Greta Thunberg, aan boord. Die Israelse ministerie van Buitelandse Sake sê die passasiers is medies ondersoek en na die Ben Gurion-lughawe geneem om na hul tuislande teruggeneem te word. Hy voeg by dié wat weier om die deportasiedokumente te onderteken en Israel te verlaat, sal voor ʼn regsowerheid verskyn.
# Gholf: Nog drie spelers het volle vrystelling gekry vir die week se Amerikaanse Opekampioenskap, terwyl vyf alternatiewe spelers uit die finale kwalifiseringsgroep by die spelersgroep van 156 gevoeg is. Ryan Fox van Nieu-Zeeland het die Kanadese Ope gewen om sy plek in die major-kampioenskap te verseker. Die Amerikaners Cameron Young en Bud Cauley het ook volle vrystelling ontvang. Die alternatiewes is die Japannees Takumi Kanaya en Riki Kwamoto en die Amerikaners, Doug Ghim, Chase Johnson en Eric Cole.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 24-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-46-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-306-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….