Nuus 09:00
BULLETIN 8 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sluit aan by die viering van Comrades 2025
# AfriForum sê die Departement van Water en Sanitasiede se oorlog teen lekkasies misluk
# En Donald Trump ontplooi troepe teen die betogings in Los Angeles
# Die ANC sê hy vier die 2025 Comrades-marathon saam met die mense van Suid-Afrika en die wêreld. Die wedloop is tans aan die gang tussen Pietermaritzburg en Durban in KwaZulu-Natal. Die party sê die ikoniese wedloop bring duisende atlete en ondersteuners bymekaar in ‘n ware demonstrasie van eenheid, uithouvermoë en vriendskap. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê dit herinner Suid-Afrikaners daaraan dat hulle deur vasberadenheid en saamhorigheid enige uitdaging kan oorkom:
# Cosatu veroordeel wat hy bestempel as die volksmoordaanslag teen die Gazastrook en die Palestynse volk. Amos Monyela van Cosatu sê die vakbondfederasie is diep bedroef dat die Verenigde Nasies se resolusie oor ‘n wapenstilstand in Gaza, deur Amerika geveto is. Hy sê dit is tyd dat die wêreld en die VN ingryp om die moorde te beëindig en Israel aanspreeklik te hou:
# AfriForum bestempel die Departement van Water en Sanitasie se oorlog teen lekkasies as ‘n volslae mislukking. Lambert de Klerk van AfriForum sê die projek, wat in 2015 ten koste van 4,7-miljard-rand van stapel gestuur is het die krisis net vererger. De Klerk beweer waterverliese het vanaf 35-persent tot 47-persent gestyg. Die Spesiale Ondersoekeenheid het wydverspreide bedrog, onvolledige werk en wanbestuur aan die lig gebring. Hy doen ‘n beroep op die regering om bekwame gemeenskappe toe te laat om herstelwerk- en infrastruktuur-onderhoud regstreeks te bestuur:
# Disabled People South Africa doen ‘n beroep vir groter beskerming van die regte van kinders met gestremdhede. Hulle ondersteun ook die Verenigde Nasies se Kinderfonds se wêreldwye pogings om die beskerming van gestremde kinders teen 2030 te verbeter. Die voorsitter van DPSA, Patrick Mahlakoane, het aan die einde van Kinderbeskermingsweek, gesê die kinders is steeds van die kwesbaarste in die samelewing en hulle staar hindernisse in die gesig wanneer dit kom by onderwys, geregtigheid en basiese dienste:
# President Donald Trump het tweeduisend lede van die National Guard in Los Angeles ontplooi om betogings oor klopjagte op ongedokumenteerde migrante te hanteer. Dit was gister die tweede dag van betogings in die Kaliforniese stad toe inwoners en federale Immigrasie- en doeane-agente slaags geraak het. Altesaam 118, insluitend 44 op Vrydag, is die week in Los Angeles gearresteer tydens die betogings teen ICE-operasies. Die burgemeester van Los Angeles, Karen Bass, het die ICE vroeër beskuldig dat hulle “terreur saai”. Die FBI en hoofde van Binnelandse Veiligheid sê die burgemeester se opmerkings stel federale agente in gevaar.
# En fietsry: Die driemanskap wat na verwagting die Tour de France gaan oorheers, kom van vandag reeds teen mekaar te staan. Tadej Pogacar, Jonas Vingegaard en Remco Evenepoel, ontmoet mekaar tydens die Critérium du Dauphiné. Met vier heuwelagtige skofte, ‘n tydtoets en die laaste drie dae in die Alpe, sal dit die soeklig plaas op die vorm van verdedigende Tour de France-kampioen Pogacar en dié van sy hoofmededinger, Vingegaard. Die dubbele Olimpiese kampioen Evenepoel sal in die kollig wees in die tydtoets, waar hy wêreld- en Olimpiese kampioen is. Die 21-dae lange Tour de France begin op 5 Julie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….