Nuus 09:00
BULLETIN 7 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê die kragnetwerk is bestendig maar onder druk
# Action Society eis die onmiddellike verwydering van polisiebeamptes wat misdade gepleeg het
# En Oscar Pistorius keer terug tot sport by die Ysterman-kompetisie in Durban
# Eskom sê die kragnetwerk is steeds bestendig en veerkragtig. Die Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hoewel stelselbeperkings soms voorkom, is daar voldoende noodreserwes en dit word strategies aangewend om aan die vraag gedurende oggend- en aandspitstye te voldoen. Sy sê die kragvoorsiener maak goeie vordering deur die toppunt van die instandhoudingseisoen:
# Die Raad vir Gesondheidsorgbefondsers sê ‘n persoonlike inkomstebelastingverhoging van tot 115-persent word benodig om die NGV in sy huidige vorm te befonds. Hulle het ‘n regsgeding teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering van stapel gestuur en waarsku dit is fiskaal onmoontlik en sal skade doen aan die ekonomie. Die vereniging se uitvoerende hoof, Thoneshan Naidoo, stel ‘n twee-ledige model voor wat openbare en privaat befondsing saamvoeg om universele gesondheidsorg meer bekostigbaar en volhoubaar te maak:
# Action Society eis dat polisiebeamptes wat misdade gepleeg het onmiddellik sonder betaling uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens verwyder word totdat hul sake opgelos is. Dit volg nadat die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie onthul het dat verskeie beamptes wat van verkragting, poging tot moord, dwelmhandel en korrupsie beskuldig word, steeds aktief diens doen. Juanita du Preez van Action Society waarsku om die beamptes aan diens te hou veroorsaak ‘n vertrouenskrisis in wetstoepassing:
# Met die uitbreking van masels wat steeds toeneem in die Verenigde State, is daar ook beduidende uitbrekings in die buurlande Kanada en Mexiko met noodlottige gevolge. Die owerhede in die Kanadese provinsie Ontario het aangekondig dat ‘n vroeggebore baba wat met masels gebore is, dood is. Ten minste vier mense is vanjaar in Mexiko oorlede en drie in die VSA. Nie een van hulle was ingeënt nie. Vanjaar se uitbrekings is die grootste in dekades in Kanada en Mexiko. Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku dat lae inentingsyfers die belangrikste dryfveer is.
# Sokker: Suid-Afrika en Tanzanië het gisteraand ‘n oninspirerende doellose gelykopuitslag behaal in hul vriendskaplike internasionale wedtryd in die Peter Mokaba-stadion in Polokwane. Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het Deano van Rooyen, Khulumani Ndamane, Simphiwe Selepe en Tshepang Moremi vir die eerste keer in die beginspan ingesluit. Bafana is op Dinsdag 10 Junie terug in die Peter Mokaba-stadion wanneer hulle teen Mosambiek uitdraf in hul volgende vriendskaplike internasionale kragmeting.
# En ten slotte: Die Paralimpiese medaljewenner en veroordeelde moordenaar Oscar Pistorius, het Sondag teruggekeer tot mededingende sport by die Ysterman 70.3 in Durban. Hy is sedert verlede jaar op parool en is toestemming verleen om KwaZulu-Natal te besoek. Hy het aan die eerste van twee Suid-Afrikaanse byeenkomste in die wêreld se voorste halfafstand-driekampreeks deelgeneem en derde geëindig in die kategorie vir gestremdes. Pistorius is in 2013 skuldig bevind aan die moord op sy meisie, die model Reeva Steenkamp. Dit was sy eerste mededingende deelname in ongeveer 13 jaar, ná sy gouemedalje by die Paralimpiese Spele in Londen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….