Nuus 09:00
BULLETIN 4 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê werkloosheid bly Suid-Afrika se bestaanskrisis
# En die vakbond Saftu verwerp die viering van die 0,1-persent groei in BBP
# En Lee Jae-myung is Suid-Korea se nuwe president
# Cosatu sê werkloosheid bly Suid-Afrika se grootste bestaanskrisis. Hy sê dis ‘n tikkende tydbom en die regering in samewerking met die sakebedryf, arbeid en die samelewing moet alles moontlik doen om dit te hanteer. Die vakverbond neem met kommer kennis van die skamele ekonomiese groei van 0,1-persent in vanjaar se eerste kwartaal. Cosatu-woordvoerder, Matthew Parks, sê ʼn dapper en bepalende plan is nodig om Suid-Afrika se ekonomiese groei aan te dryf en goeie werk vir die werkersklas te skep:
# Ook die vakbondfederasie Saftu sê hy verwerp die regering se oppervlakkige viering van die 0,1-persent groei in bruto binnelandse produk in vanjaar se eerste kwartaal. Hy sê die sogenaamde groei is nie insluitend of hervormend nie. Saftu-woordvoerder Newton Masuku sê fiskale, monetêre en handelsbeleid sal radikaal verander moet word om groeivlakke te haal wat genoeg is om die hoë werkloosheidsyfer te verlaag:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die begroting wat die LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, opnuut voorgelê het, verskil nie veel van verlede jaar s’n nie, behalwe die toename van 886,6-miljoen-rand. Die begroting vir die 2025/2026-boekjaar beloop 172,3-miljard-rand. Anton Alberts van die VF Plus sê hy sal met Maile vergader om die begroting se billike verspreiding te bespreek en seker te maak fondse word nie net aan een groep toegeken nie:
# Die Demokratiese Party se kandidaat Lee Jae-myung het die Suid-Koreaanse blitspresidentsverkiesing met byna 50-persent van die stemme gewen. Sy hoofteenstander, Kim Moon-soo van die konserwatiewe People Power Party, het die nederlaag erken. Hy sê hy berus in die mense se besluit. Die verkiesing het gevolg na die vorige president Yoon Suk Yeol aangekla en vervolg is nadat hy in Desember krygswet afgekondig het. Lee, wat vandag as president beëdig is, het beloof om die land te verenig en die ekonomie te herstel.
# Rugby: ‘n Voormalige hoofafrigter van Engeland, Stuart Lancaster, is aangestel as die nuwe hoofafrigter van Connacht in Ierland. Die 55-jarige het ‘n tweejaarkontrak geteken, en sal in Julie toesig hou oor die voorseisoen-afrigting. Lancaster is in 2011 as Engeland se hoofafrigter aangestel, maar is weg by die span na ‘n treurige tuiswêreldbeker in 2015. Hy was tot onlangs die hoofafrigter by die Franse klub Racing 92, nadat hy tussen 2016 en 2023 senior afrigter by Leinster was.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-682-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-360-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….