Nuus 09:00
BULLETIN 2 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis ‘n Lekgotla oor die Verdedigingsbedryf
# Universiteite benodig twee-miljard-rand om die inkorting van Amerikaanse befondsing teen te werk
# En die FBI ondersoek ‘n vermeende daad van terrorisme in Colorado
# Die DA sê die minister van Verdediging, Angie Motshekga, se voortslepende versuim om ‘n lank beloofde lekgotla van die Suid-Afrikaanse Verdedigingsbedryf te belê, wek kommer aangesien die land se verdedigingsbedryf vinnig verswak. Die bedryf se inkomste het van 19,5-miljard-rand in 2016 gedaal tot 12,5-miljard-rand in 2020. Chris Hattingh van die DA sê hierdie lekgotla, wat reeds deur oudminister Thandi Modise voorgestel is, moes ʼn pad vorentoe berei vir die sukkelende sektor:
# Universiteite Suid-Afrika het die Nasionale Tesourie vir twee miljard rand gevra om die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van die Witwatersrand, die Universiteit van KwaZulu-Natal en die Universiteit Stellenbosch te help. Die VSA het sy navorsingstoelaes aan die instellings opgeskort. Wits alleen het 18 projekte van 230-miljoen-rand wat onder die President se Noodplan vir Vigsverligting val, terwyl fondse van Amerika se Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling ook beëindig is. Universiteite Suid-Afrika, ‘n sambreelliggaam wat 26 openbare universiteite verteenwoordig, sê dit is belangrik om meer selfonderhoudend te word.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sal vandag die geregtelike ondersoek na die dood van die Cradock-vier in die Gqeberha Hooggeregshof in die Oos-Kaap bywoon. Die anti-apartheidsaktiviste, Fort Calata, Matthew Goniwe, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto is in 1985 deur die veiligheidspolisie ontvoer en vermoor terwyl hulle Gqeberha verlaat het. Die ministeriewoordvoerder, Terrence Manase, sê die ondersoek is deel van hulle pogings om sake uit die apartheidsera af te handel:
# Ses mense tussen 67- en 88-jaar is beseer nadat ʼn man volgens berigte mense by ʼn winkelsentrum in Boulder, Colorado, in Amerika aan die brand gesteek het. Die 45-jarige verdagte, Mohamed Sabry Soliman, het na bewering ʼn tuisgemaakte vlamwerper gebruik en ʼn brandbom tussen die mense gegooi terwyl hy “Free Palestine” skree. ʼn FBI-agent, Mark Michalek, sê dis ʼn geteikende geweldsdaad en hulle ondersoek dit as ʼn daad van terrorisme:
# Krieket: Die Punjab Kings het hul eerste Indiese Premierliga-eindstryd in 11 jaar gehaal toe hulle die Mumbai Indians in Ahmedabad met vyf paaltjies verslaan het. Tilak Varma en Suryakumar Yadav het elkeen 44 paaltjies bygedra om Mumbai se telling 203 vir ses te maak. In antwoord daarop het kaptein Shreyas Iyer ʼn onoorwonne 87 van 41 balle behaal om Punjab ʼn oorwinning te verseker met ses balle wat oorbly. Na môre se eindstryd tussen die Punjab Kings en die Royal Challengers Bengaluru word ʼn nuwe kampioen die eerste keer sedert 2016 gekroon.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-976-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-313-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….