Nuus 09:00
BULLETIN 30 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile vra dringende hervorming om ‘n bekwame staat te skep
# Die ANC versoek ‘n provinsiale begrafnis vir Mandela se gewese lyfwag, André Lincoln
# En, die Departement van Gesondheid stuur ‘n bewusmakingsveldtog oor orgaanskenking van stapel
# Adjunk-president Paul Mashatile sê dringende hervorming is nodig om ‘n bekwame, etiese en professionele staat te skep. Hy het oor die versterking van die politiek-administratiewe raakvlak in Pretoria gesê onstabiliteit tussen politieke en administratiewe leiers belemmer vooruitgang. Mashatile het gevra vir die depolitisering van die staatsdiens, konsekwente leierskap en ondersteuning vir sake-ondernemings. Hy het gesê oorlogskamers gaan geskep word vir skoon bestuur, ekonomiese groei en die uitwissing van honger vir transformasie waarin mense eerste gestel word:
# Die ANC in die Wes-Kaap het die provinsiale regering versoek om ‘n amptelike provinsiale begrafnis aan oudpresident Nelson Mandela se gewese lyfwag, André Lincoln, toe te staan. Lincoln, ‘n gewese uMkhonto weSizwe-intelligensiebeampte, is gisteroggend tuis oorlede. Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie. Hy was aan die hoof van die teenbende-eenheid in die Wes-Kaap. ‘n ANC-woordvoerder, Khalid Sayed, sê Lincoln se stryd teen apartheid, leierskap teen korrupsie en morele integriteit verdien hoë eer. Die ANC-wetgewerkoukus sal premier Alan Winde formeel vra om die aansoek goed te keur.
# AfriForum het die Parlement aangemoedig om minagting van die Konstitusionele Hof te vermy deur sperdatums vir die regstelling van ongrondwetlike wette na te kom. Dit volg op ‘n tweejaar-verlenging wat toegestaan is vir die aanvaarding van die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap. Barend Uys van AfriForum waarsku dat die vertraging kulturele gemeenskappe rigtingloos laat. Hy sê herhaalde sperdatumverlengings toon swak verbintenis tot konstitusionele demokrasie en minagting vir inheemse en kulturele regte:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê korrupsie duur voort weens politieke onwilligheid en sistemiese geheimhouding in regeringsinstellings. OUTA glo Suid-Afrika verswak aanhoudend, met dienslewering wat ineenstort, toenemende ongelykheid en geen stappe teen korrupsie nie. Die organisasie sê die staat het versuim om die Staatskapingskommissie se bevindings te implementeer en diegene wat by korrupsie betrek word, bly onaangeraak. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê die burgerlike samelewing moet ingryp waar die politieke wil ontbreek.
# Die Departement van Gesondheid stuur vandag ‘n orgaanskenking-bewusmakings-veldtog in Boksburg, Gauteng, van stapel om orgaan- en weefselskenking in Suid-Afrika te bevorder. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê daar is bykans drie-duisend pasiënte op waglyste en die veldtog moedig gesinne aan om die geskenk van die lewe te omhels, want mense sterf terwyl hulle op oorplantings wag. Hy sê die inisiatief is gemik oop groter bewustheid van die lewensreddende rol van orgaan- en weefselskenking :
# En, die verdedigende kampioene Glasgow Warriors het die Stormers gisteraand met 36-18 in die Scotstoun-stadion afgeransel om hul plek in die halfeindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap te verseker. Glasgow het teen rustyd met 19-14 voorgeloop. Die Skotte het vyf drieë gedruk, terwyl die res van die punte van George Horn se skopskoen was. Seabelo Senatla het twee keer gaan druk, met Sacha Feinberg-Mngomezulu wat slegs een verdoel het en twee strafskoppe oorgeskop het. Vanmiddag om 13:30 pak die Bulle Edinburgh in hul kwarteindstryd op Loftus in Pretoria, terwyl die Haaie en Munster om 19:30 in Durban kragte meet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………..