Nuus 09:00
BULLETIN 22 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Suid-Afrika se afvaardiging het die land in die verleentheid gestel
# Die SANW verduidelik die buitelandse toelaes vir troepe
# En Brittanje vra vir ‘n ondersoek nadat Israelse troepe op diplomate in die Wesoewer skiet
# Die EFF sê hy is trots dat sy wetgewende en politieke agenda onder leier Julius Malema volgens hom imperialisme in Washington geraak het. President Donald Trump het sy ampsgenoot, Cyril Ramaphosa tydens die vergadering in die Withuis onkant betrap met ‘n video waarin Malema sing dat wit mense vermoor moet word. EFF-woordvoerder Sinawo Tambo het aan die SABC gesê die Suid-Afrikaanse afvaardiging het die land in verleentheid gestel, regsbesluite verwerp en soms gekruip en gelieg:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het die onduidelikheid uitgeklaar oor die toelaestruktuur vir troepe wat op buitelandse sendings ontplooi is. Dit volg op berigte dat die weermagsoldate wat as deel van die sending van Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in die Demokratiese Republiek die Kongo ontplooi is, na bewering slegs 34-duisend rand per maand ontvang het. Dít ten spyte daarvan dat die SAOG 108-duisend rand per soldaat toeken. Die weermag se woordvoerder, Prins Tshabalala, sê elke land wat troepe stuur, pas sy eie beleid toe wat toelaes vir sy personeel betref:
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het die noodlottige skietery van ‘n 25-jarige vrou by die Blue Downs-landdroshof in Kaapstad vroeër die week veroordeel. Dit volg nadat ‘n man verlede maand in die Wynberg-landdroshof doodgeskiet is. Die departement se woordvoerder, Kgalalelo Masibi, sê die voorval hou nie met ‘n hofsaak verband nie en die oorledene het nie dié dag enige hofverwante afspraak by die hof gehad nie:
# Die Britse regering vra ʼn ondersoek nadat die Israelse weermag waarskuwingskote afgevuur toe diplomate Jenin in die Wesoewer besoek het. Die afvaardiging het bestaan uit ambassadeurs en diplomate van 31 lande, insluitend Italië, Kanada, Egipte, Jordanië, Brittanje, China en Rusland. Die IDF sê hulle het waarskuwingskote gevuur nadat die diplomate tydens ʼn besoek afgewyk het van ʼn goedgekeurde roete in die stad. Die Britse minister van Buitelandse Sake, Hamish Falconer, sê burgerlikes moet altyd beskerm word en diplomate moet toegelaat word om hul werk te doen.
# Sokker: Tottenham Hotspur het Manchester United in Bilbao, Spanje, met 1-0 geklop om die Europese Liga-eindstryd te wen. Brennan Johnson se doel in die eerste helfte was bepalend en Tottenham het hul eerste trofee in 17 jaar gewen. Met hul sege in die Europese Liga, kwalifiseer Ange Postecoglou se manne vir volgende seisoen se Kampioeneliga. United sal vir die tweede keer sedert Engelse klubs in 1990 weer by UEFA toegelaat is, volgende seisoen aan geen Europese kompetisies deelneem nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-283-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….