Nuus 09:00
BULLETIN 21 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n ANC-studiegroep glo die Ramaphosa-Trump-vergadering sal goed verloop
# Die Nasionale Vergadering aanvaar nuwe skenkingsperke vir politieke partye
# En die VN sukkel om hulp in Gaza te versprei
# Die ANC-studiegroep in Internasionale Betrekkinge en Samewerking glo president Cyril Ramaphosa se ontmoeting met sy Amerikaanse eweknie, Donald Trump, sal positiewe uitkomste oplewer tot voordeel van alle Suid-Afrikaners. Die twee leiers vergader vandag by die Withuis. Die studiegroep sê die besoek bied ‘n belangrike geleentheid om diplomatieke bande te versterk, ekonomiese samewerking te verbeter en Suid-Afrika se belange op die wêreldverhoog te bevorder. Volgens die groep bied dit ook geleentheid om wanvoorstellings en verkeerde inligting reg te stel.
# Die Nasionale Vergadering het ‘n verslag aanvaar vir die aanbevole boonste skenkingsperk vir politieke partye en die openbaarmakingsperk vir politieke partye, onafhanklike kandidate en onafhanklike verteenwoordigers. Die portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake, het aanbeveel dat die boonste perk vir skenkings op 30-miljoen-rand gestel word en die openbaarmakingsperk op 200-duisend-rand in ‘n spesifieke boekjaar. Die komiteevoorsitter, Mosa Chabane sê hulle het ook die balans tussen politieke partybestuur en die behoefte aan deursigtigheid in ag geneem:
# Twee Kaapstadse wetstoepassingsbeamptes is op aanklagte van ontvoering en afpersing gearresteer. Dit volg na ‘n interne ondersoek deur die Veiligheids- en Sekuriteitsondersoekeenheid. Die beamptes wat lede van die Metaaldiefstaleenheid was het na bewering twee mans in Khayelitsha ontvoer en ‘n losprys vir hulle vrylating geëis. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê hulle sal nie huiwer om die saak te ondersoek en die nodige stappe te doen nie:
# Die Verenigde Nasies sê geen hulp is nog in Gaza versprei nie, ondanks vragmotors met onder meer meel, babakos, mediese toerusting en farmaseutiese medisyne, wat die grens begin oorsteek het. Die Israelse premier Benjamin Netanyahu het Sondag die elf weke lange versperring opgehef, wat ‘n basiese hoeveelheid voedsel toelaat om Gaza binne te gaan. Die VN-woordvoerder, Stephane Dujarric, sê die hulp-operasie is ingewikkeld omdat Israel vereis dat die organisasie voorrade aan die Palestynse kant van die Kerem Shalom-kruising aflaai:
# Rugby: Immanuel Feyi-Waboso sal sy eerste verskyning sedert November in ‘n Engelse span maak met sy ontwrigte skouer wat vinnig herstel. Feyi-Waboso is ingesluit in Engeland se 33-man-groep vir ‘n tweedaagse oefenkamp voor hul somerwedstryde. Die 22-jarige Exeter vleuel het nie in 2025 gespeel nie na ‘n operasie om van ‘n besering te herstel wat hy tydens klubrugby in Desember opgedoen het. Hy kan moontlik op 31 Mei in Exeter se laaste Premierliga-wedstryd van die seisoen teen Sale speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-956-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-304-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….