Nuus 09:00
BULLETIN 19 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Poskantoor ontvang ‘n broodnodige kontantinspuiting
# Die Nasionale Christelike Forum doen ‘n beroep op Ramaphosa om Shamila Batohi af te dank
# En gholf: Scottie Scheffler is die Amerikaanse PGA-kampioen
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het aangekondig die Werkloosheidsversekeringfonds en Suid-Afrikaanse Poskantoor het ‘n nuwe ooreenkoms onderteken. Die doel is om byna ses-duisend werksgeleenthede te behou en die staatsinstelling te laat herlewe. Die ministerie se woordvoerder, Thobeka Magcai, sê die WVF sal oor ʼn tydperk van ses maande deur die Tydelike Werkgewer-werknemer-verligtingsfonds 381-miljoen-rand in die Poskantoor stort:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christen Forum sê president Cyril Ramaphosa moet die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, afdank. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag besluit het om weens onvoldoende bewyse niemand te vervolg in verband met die beweerde verkragting van ʼn sewejarige meisie in Matatiele in die Oos-Kaap nie. Die forum se leier, Marothi Mashashane, sê die NVG-hoof kan uit die amp verwyder word vir die swak vertoning van aanklaers onder haar jurisdiksie:
# Nog drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n Johannesburgse metropolisiebeampte verlede week in Vlakfontein. Altesaam vyf mense is nou vir die moord vasgetrek. ‘n Woordvoerder van die Valke in Gauteng, Katlego Mogale, sê die span het inligting opgevolg wat hulle na twee huise in Dobsonville, Soweto gelei het waar hulle die voertuig gevind het wat die verdagtes glo die dag van die moord gebruik het, asook twee vuurwapens, waarvan een dié van die beampte. Die vyf verskyn vandag in die Lenasia-landdroshof.
# Gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, het sy derde groot titel ingepalm deur die Amerikaanse PGA-kampioenskap op Quail Hollow vir die eerste keer te wen. Die Amerikaner se oorwinning met vyf houe is die grootste in die kampioenskap ná die Ier Rory McIlroy se sege van agt houe in 2012. Bryson DeChambeau van Amerika was saam met sy landgenote Davis Riley en Harris English tweede op ses onder baansyfer. McIlroy het in ‘n gesamentlike 47ste plek geëindig. Scheffler sê dit was ‘n moeilike oorwinning:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-268-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-215-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-69-sent per vat.
# En ter afsluiting, 702 en Primedia se stigter, Issie Kirsh, is die naweek op 90-jarige ouderdom oorlede. Hy en sy seun William het Primedia, een van Suid-Afrika se grootse mediamaatskappye gestig. Primedia se uitvoerende hoof, Jonathan Procter, sê die land moet dankbaar wees teenoor Kirsh en sy familie vir hul ondersteuning van onafhanklike media. Hy sê onafhanklike nuusmedia is vandag belangriker as ooit weens die aanslag van gevestigde belange en ongekontroleerde nuus op onafhanklike joernalisme, wat ʼn hoeksteen van enige suksesvolle demokrasie is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….