Nuus 09:00
BULLETIN 16 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Ramaphosa se besoek aan die VSA is ‘n poging deur Trump om Suid-Afrika te ondermyn
# Minister Macpherson sê die teenstrydighede in die Onteieningswet kan opgelos word
# En meer as 100 is dood in ‘n nuwe vlaag Israelse aanvalle in Gaza
# Die EFF sê die konteks van president Cyril Ramaphosa se besoek aan die VSA is ‘n duidelike poging deur president Donald Trump om Suid-Afrika te ondermyn en die vorm en tempo van transformasie-inisiatiewe te dikteer. Ramaphosa se besoek aan die VSA volgende week sal ‘n platform bied om die strategiese verhouding tussen die twee lande te herstel. Die EFF se woordvoerder, Thembi Msane, sê Ramaphosa is op die punt om deur Trump in die verleentheid gestel te word, wat Msane as ‘n ongeletterde imperialis en boelie beskryf:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, erken daar is teenstrydighede in die Onteieningswet, maar hy reken dit kan opgelos word. Die wetgewing bestuur die proses waardeur die regering individue of instellings se grond kan onteien vir openbare doeleindes of in openbare belang. Macpherson het gister by ‘n paneelbespreking oor die uitwerking van die Onteieningswet gesê daar is nie grondgrype of volksmoord op wit boere nie:
# Die Johannesburgse Metropolisie belowe vinnige geregtigheid ná Matome Mokoena, een van sy beamptes, tydens ’n rooftog-agtervolging in Vlakfontein doodgeskiet is. Mokoena en sy kollega het Woensdagaand ’n verdagte voertuig afgetrek toe die verdagtes hom geskiet het. Hulle het sy vuurwapen en die JMPD-motor gesteel, wat later verlate aangetref is. JMPD-woordvoerder Xolani Fihla het die moord as ’n wrede aanval op wetsgehoorsame burgers beskryf:
# Die Israelse weermag het sy operasies in Gaza verskerp en meer as 100 mense gedood. Talle van die slagoffers was in Jabalya in die noorde van Gaza en Khan Younis in die suide. Israelse amptenare sê baie van die onlangse aanvalle het senior Hamas bevelvoerders geteiken en die militante groep beskuldig dat hy burgerlikes as menslike skilde gebruik. Die jongste operasies volg terwyl die Palestynse ministerie van Gesondheid bevestig het dat die aantal mense wat sedert die begin van die Israelse aanvalle in Oktober 2023 omgekom het, nou op meer as 53-duisend staan.
# Tennis: Die wêreld-nommer-vyf, Jasmine Paolini, speel Saterdag in die Italiaanse Ope-eindstryd teen Coco Gauff. Sy wil die eerste Italiaanse vrouespeler in 40 jaar word wat die toernooi wen. Sy het die Amerikaner, Peyton Stearns verslaan om die derde Italiaanse vrou in die Ope-era te word wat die eindstryd haal. Gauff het Zheng Qinwen van China naelskraaps geklop. In die mansafdeling is topgekeurde Jannik Sinner in die halfeindronde nadat hy Casper Ruud van Noorweë geklop het. Hy kom nou teen die Amerikaner, Tommy Paul, te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-967-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-217-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….