Nuus 09:00
BULLETIN 15 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die vertragings in MIV/VIGS-behandeling is die ANC se skuld
# Paul Mashatile besoek die Nampo-oesdag vandag
# En rugby: Die voormalige Springbok-vleuel Cornal Hendricks is oorlede
# Die Vryheidsfront Plus sê die regering het versuim om betyds reëlings te tref om te keer dat MIV/VIGS-programme en -behandeling in duie stort. Gesondheidsaktiviste, onder leiding van die Treatment Action Campaign-stigter, Zackie Achmat, het gister die portefeuljekomitee oor Gesondheid se sitting in die parlement ontwrig. Philip van Staden van die VF Plus sê die aktiviste glo die departement het versuim om oplossings te vind vir die probleme rondom VIGS-behandeling wat weens die opskorting van Amerikaanse befondsing ontstaan het:
# Adjunkpresident Paul Mashatile ontmoet vandag die landbousektor by die Nampo-Oesdag in die Vrystaat. Die geleentheid lok jaarliks meer as 80-duisend besoekers. Die tema is Globale Landbou – Plaaslik, en die geleentheid beklemtoon die aanpassing van wêreldwye landbouvernuwings by Suid-Afrikaanse omstandighede. Die presidensie sê Mashatile se teenwoordigheid beklemtoon die belang wat die regering plaas op landbou as die grootste bydraer tot werkskepping, voedselsekerheid en ekonomiese groei in die land.
# Die MK-party sê hy neem kennis van die onlangse inhegtenisneming van die Baaise prokureur en waarnemende regter, Siphokazi Cubungu, op ernstige aanklagte van bedrog en korrupsie. Die party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê die voorval versterk hulle oproep dat leefstyloudits uitgevoer en alle lede van die regbank se bates verklaar word. Hy sê hulle bly verbind om integriteit, aanspreeklikheid en geregtigheid op alle vlakke van die regering en die samelewing te bevorder:
# Die regering van Katar het die omstredenheid verwerp oor die plan van Amerika se president, Donald Trump, om ‘n luukse reusestraler as geskenk te aanvaar en as presidensiële vliegtuig te gebruik. Die Amerikaanse grondwet het ‘n beperkingsbepaling wat bepaal wat ‘n president as geskenk van buitelandse regerings mag aanvaar. ‘n Woordvoerder van Katar se ministerie van buitelandse sake, Majed Al Ansari, het aan Sky News gesê die geskenk is ‘n deursigtige uitruiling tussen twee regerings:
# Rugby: Die voormalige Springbok-vleuel Cornal Hendricks is op 37-jarige ouderdom oorlede. Hy het na bewering gisteraand ‘n hartaanval gehad. Hendricks het tussen 2014 en 2015 12 toetse vir die Bokke gespeel en vyf drieë gedruk. Plaaslik het hy Boland, die Cheetahs en die Bulle verteenwoordig. Sy toetsloopbaan is kortgeknip nadat hy in 2016 met ‘n ernstige harttoestand gediagnoseer is. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het hulde gebring aan Hendricks en gesê hy het baie mense in sport geïnspireer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-856-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-147-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….