Nuus 09:00
BULLETIN 4 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nehawu vra vir strenger strawwe vir amptenare wat geskors is weens die parlementsbrand
# Die EFF sê die ANC se misdaadvoorkomingsbewaarders kon nie skietvoorvalle in Soshanguve keer nie
# En, prins Andrew, Donald Trump en Bill Clinton word genoem in die Jeffrey Epstein-hoflêers
# Nehawu in die Wes-Kaap vra strenger strawwe vir nege amptenare wat geskors is nadat die parlementsgebou in 2022 aan die brand gesteek is. Die parlement het meer as twee-miljard-rand bewillig vir die heropbou van die beskadigde geboue. ’n Hawelose man, Zandile Mafe, is van brandstigting aangekla en later onbevoeg bevind om tereg te staan. Sthembiso Tembe van Nehawu het aan ENCA gesê die vakbond is bereid om bewyse aan die parlement te lewer om te verseker dat die werkers ontslaan word:
# Die EFF in Tshwane sê die ANC se misdaadvoorkomingsbewaarders wat deur die Gautengse provinsiale regering ontplooi is, is ondoeltreffend om skietvoorvalle in Soshanguve te voorkom. Die party sê misdaad het onder die ANC-geleide regering die hoogte ingeskiet en was onsuksesvol om gemeenskappe te beveilig teen die ongebreidelde verspreiding van onwettige vuurwapens en sinnelose moorde. ‘n EFF-woordvoerder, Obakeng Ramabodu, doen ʼn beroep op die SAPD en Tshwane-metropolisie om intensiewe stop-en-deursoekprogramme in te stel om onwettige vuurwapens te soek en die veiligheid van inwoners in die munisipaliteit te verbeter.
# Die vraag na krediet in Suid-Afrika het in November verder ingekrimp weens ‘n aansienlike afname in aansoeke om huis- en ander lenings en voorskotte. Die groei in huislenings het jaar-tot-jaar tot 3,8-persent afgeneem, van 4,3-persent in Oktober. Wat die korporatiewe sektor betref, het die verstadiging gekom van die voortgesette afname in kommersiële verbande en algemene lenings. Ekonome van Nedbank verwag kredietgroei sal steeds verswak in die eerste helfte van 2024, weens die invloed van hoë rentekoerse, ‘n versigtige leenneiging en kommer oor toenemende skuldwanbetalings.
# Prins Andrew en die voormalige presidente Bill Clinton en Donald Trump se name word genoem in hofdokumente van mense wat verbind word met die seksoortreder en berugte finansier, Jeffrey Epstein. ‘n New Yorkse federale regter het die bekendmaking beveel van dokumente wat deel is van ‘n hofsaak wat verband hou met Epstein se vennoot, Ghislaine Maxwell. Sommige van die genoemdes word van oortredings beskuldig terwyl andere op die lys beskuldigings gemaak het of moontlike getuies is. Epstein is in 2019 in die tronk oorlede. Sy dood terwyl hy verhoorafwagtend was op federale sekshandel-aanklagte, is deur ‘n New Yorkse mediese ondersoekbeampte as selfdood verklaar.
# Rugby: Die Leeus is die naweek weer in aksie in die Verenigde Rugby-kampioenskap met ‘n plaaslike derby in Durban teen die Haaie. Die span van Johannesburg is in die 12de posisie op 19 punte, maar het twee wedstryde minder gespeel nadat hulle feestyd-derbywedstryde uitgestel is. Die Leeus het laas in 2017 in Durban gewen, maar die hulpafrigter, Ricardo Laubscher, is vol vertroue hulle kan die beskikbare punte insamel as hulle die wedstrydplan doeltreffend uitvoer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-185-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-43-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….