Nuus 09:00
BULLETIN 13 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula kritiseer diegene wat die winste van vryheid dwarsboom
# Die VF Plus verwelkom die swartlys vir kontrakteurs wat nie presteer nie
# En Erik en Lyle Menendez kom nou in aanmerking vir parool
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die wanvoorstelling van die Onteieningswet bewys dat die begunstigdes van apartheid nie sal berus nie. Hy het dié opmerkings gemaak in sy hoofrede op die ANC se Duma Nokwe-gedenklesing Dinsdag in die Sedibeng-munisipaliteit in Gauteng. Die DA betwis die wet in die hof en sê dit is ongrondwetlik. Mbalula sê diegene wat die regering hof toe geneem het vir die bevordering van gelyke indiensneming, werk oortyd om die winste van vryheid ongedaan te maak:
# Die African Transformation Movement sê hy is woedend oor die katastrofiese wanbestuur van Suid-Afrika se ekonomie wat beklemtoon word deur ‘n kommerwekkende styging in werkloosheid. Die land se werkloosheidsyfer het in vanjaar se eerste kwartaal tot 32,9-persent geklim vanaf die 31,9-persent in die vierde kwartaal van 2024. ATM-woordvoerder Zama Ntshona sê hoë werkloosheidsvlakke en trae ekonomiese groei is ʼn teken dat die regering van nasionale eenheid sonder ʼn greep op die werklikheid is:
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê hy ondersteun die voorstel dat kontrakteurs wat nie aan die vereiste standaarde voldoen nie, op ʼn swartlys geplaas word. Dit sluit kontrakteurs in wat lieg oor hul vermoëns, verkrygingsprosesse manipuleer of nie projekte voltooi nie. Roche Grobler van die VF Plus sê die metroraad het die voorstel eenparig aanvaar:
# ʼn Kaliforniese regter het Erik en Lyle Menendez se vonnis na 50 jaar tronkstraf verander vir die moord in 1989 op hul ouers, en hulle kom nou in aanmerking vir parool. Die broers het erken hulle het Kitty en Jose Menendez vermoor, maar aangevoer dit was uit selfverdediging ná jare lange mishandeling. Hulle is skuldig bevind aan moord in die eerste graad en tot lewenslange tronkstraf sonder die moontlikheid van parool gevonnis. Erik en Lyle, wat nou 54 en 57 jaar oud is, is reeds 35 jaar agter tralies. Die staat se paroolraad sal oor hulle lot besluit.
# Krieket: Engeland het vyf Indiese Premierliga-spelers ingesluit in sy span vir ‘n eendagreeks teen die Wes-Indiese Eilande, insluitend die gewese kaptein, Jos Buttler. Dis egter nie uitgesluit dat hulle dalk nie aan die reeks sal deelneem nie. ’n Probleem met skedulering dreig nadat die winsgewende T20-toernooi verlede week opgeskort is weens die dodelike militêre skermutselings tussen Indië en Pakistan. Die Indiese beheerraad het besluit om die 17 uitstaande wedstryde aan te bied ná ’n wapenstilstandsooreenkoms, met die toernooi wat moontlik op 3 Junie sal eindig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die 20-rand-49-sent teen die euro en 24-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-740-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-224-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….