Nuus: 09:00
BULLETIN 10 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering bly verbind tot konstruktiewe dialoog met Amerika
# Nersa gee goedkeuring om die netwerk-kapasiteit ‘n hupstoot te gee en hernubare energie te ondersteun
# En rugby, Eben Etzebeth se besering oorskadu die Haaie se goeie sege oor die Ospreys
# Die regering sê hy is steeds verbind tot konstruktiewe dialoog met die Verenigde State van Amerika, geanker in wedersydse respek vir soewereiniteit, die oppergesag van die reg, en ‘n gedeelde verbintenis tot die versterking van wedersyds voordelige bilaterale vennootskappe. Die woordvoerder van die ministerie van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Chrispin Phiri, sê die departement het die status aangevra van mense wat na Amerika sal vertrek, hetsy as asielsoekers, vlugtelinge of gewone burgers. Hy sê die regering het gevra vir versekering dat dié mense behoorlik gekeur is deur bevoegde Suid-Afrikaanse owerhede:
# Die energiereguleerder NERSA het die Nasionale Transmissiemaatskappy se plan goedgekeur, om opeenhoping van die kragnetwerk te bestuur en meer hernubare energie in die Oos- en Wes-Kaap te ondersteun. Die besluit is tot 2028 geldig en laat beperkte kragopwekker-kragonderbrekings toe om ruimte op die netwerk te skep. Charles Hlebela van Nersa sê dit sal help om meer skoon energieprojekte te verbind en verbruikers sal teen bykomende koste beskerm word. Suid-Afrika se hernubare energiedoelwitte sal ook ondersteun word:
# Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid het gewaarsku dat Mei-uitbetalings aan sekere begunstigdes effens vertraag sal wees. Dit volg op identiteitsverifikasieprosesse wat tans aan die gang is om nakoming te verseker en bedrog te voorkom. Paseka Letsatsi, woordvoerder van SASSA, het aan Newzroom Afrika gesê diegene wat geraak word, is begunstigdes wie se besonderhede verdere bevestiging vereis. Hy het beklemtoon dat begunstigdes in kennis gestel en bygestaan sal word, sonder dat hulle toegang tot hul toelaes verloor.
# Indië het X beveel om meer as agt-duisend rekeninge te bevries. Die sosiale media-platform sê hy het met huiwering voldoen aan wat hy as regering-sensuur beskryf. Dit is vermoedelik deel van Indië se omvattende optrede teen sosiale media-rekeninge vir Pakistanse politici, bekendes en media-organisasies te midde van verhoogde spanning en dodelike botsings tussen die kern-bewapende buurlande. X sê die opdrag behels ook die rekeninge van internasionale nuusorganisasies. Dit volg ‘n dag nadat Meta ‘n vooraanstaande Moslem-nuusblad op Instagram verbied het op versoek van Nieu-Delhi.
# Rugby: Die Haaie se oorwinning van 29-10 oor die Ospreys in hul voorlaaste wedtryd in die Verenigde Rugbykampioenskap op Kingspark het hulle minstens onder die boonste vier geplaas en hul eerste tuis-kwarteindstryd ooit in die reeks verseker. Die sege is egter oorskadu deur die kniebesering waarmee Eben Etzebeth in die eerste helfte die veld verlaat het. Dit is nie net vir die Haaie-afrigter, John Plumtree, kommerwekkend nie, maar ook vir Rassie Erasmus en die Springbokke. Die Haaie laaste wedstryd vóór die uitspeelrondes is volgende naweek teen die Scarlets in Durban.
Die Springbokke Willie le Roux, Cameron Hanekom en Marcell Coetzee is intussen ingesluit in die Bulle se opdraf-span vir vanaand se wedstryd teen Cardiff op Loftus in die voorlaaste ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Hanekom keer terug ná ’n besering, terwyl Le Roux en Coetzee in die vorige wedstryd teen die verdedigende kampioen, Glasgow, in Skotland op die bank was. Die Bulle is tans derde op die punteleer na Leinster en Glasgow, en het reeds vir die uitspeelrondes gekwalifiseer. Cardiff is vyfde na die Haaie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….