Nuus 09:00
BULLETIN 9 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vereniging van Staatsamptenare eis ingryping by die Nasionale Loterykommissie
# Die rybewyskaart-drukmasjien is herstel
# En wêreldleiers wens die nuwe hoof van die Katolieke Kerk geluk
# Die Vereniging van Staatsamptenare eis dat die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging dringend die uitdagings van korrupsie, wanadminstrasie en swak bestuur by die Nasionale Loterykommissie aanspreek. Claude Naicke van die vereniging sê werknemers by die kommissie werk in ‘n neerdrukkende omgewing, want die bestuur en raad het versuim om doeltreffendheid en goeie bestuur te verseker. Hy sê vertragings met die aanstelling van ‘n loteryoperateur hou ‘n ernstige bedreiging vir die kommissie se voortbestaan in:
# Die Departement van Vervoer het bevestig dat die rybewyskaart-drukmasjien herstel is, met bedrywighede wat hervat word na ‘n onderbreking van drie maande. Dit het gelei tot ‘n aansienlike agterstand in kaartproduksie. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap het tans die meeste uitstaande lisensies:
# Die DA in Gauteng sê kankerpasiënte sal aanhou ly en sterf terwyl die provinsie se Gesondheidsdepartement met sinlose hofsake besig is, pleks daarvan om met nie-regeringsorganisasies soos die Kankeralliansie saam te werk. Verlof tot appèl is aan die departement toegestaan teen ‘n uitspraak van die Hooggeregshof dat die versuim om bestralingsbehandeling aan duisende pasiënte te verskaf, ongrondwetlik en onwettig is. Die DA se Jack Bloom sê die departement het in 2023/2024 versuim om 250-miljoen-rand te bestee om die lewe van pasiënte te red:
# Wêreldleiers het Robert Prevost geluk gewens met sy verkiesing as die nuwe pous. Die 69-jarige Pous Leo die 14de is die eerste Amerikaanse pous. Die Franse president Emmanuel Macron sê hy hoop die nuwe ampstermyn is een van vrede en hoop. Die Oekraïnse president Volodymir Zelensky sê hy hoop op die voortgesette morele en geestelike ondersteuning van die Vatikaan in sy land se pogings om geregtigheid te herstel en ‘n blywende vrede te bewerkstellig. Die Russiese president Vladimir Putin het die nuwe pous sukses toegewens in die vervulling van die hoë sending wat aan hom toevertrou is.
# Gholf: Robin Williams van Suid-Afrika, die Duitser Tiger Christensen en Martin Couvra van Frankryk loop gesamentlik voor op ses onder baansyfer 65 ná die openingsrondte van die Turkish Airlines-ope. Williams het nege houe in 14 afslane verloor sedert hy aan die DP Wêreldtoer begin deelneem het, maar het ses voëltjies in ‘n foutlose rondte aangeteken en onder die voorlopers ingeskuif. Die Nederlander Joost Luiten en Engeland se Brandon Robinson Thompson is vierde met vyf onder baansyfer.
#En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-en-643-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-316-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….